Letters

Brief: Skooleksamen: Die siek kind, die onderwyser en die neusblasery

Die kinders klink soos ’n koor met al die gesnuif-snuif en gehoes-hoes.

Finachlie Diedericks, onderwyser aan Hoërskool Nylstroom, skryf:

Daar is seker geen vreemder wese as ’n gr. 8- en 9-leerder nie. Nie kind nie, maar ook nog nie grootmens nie.

So kom dit dat ek in ’n eksamenlokaal moet toesig hou waar 30 van hulle sit. Vroegoggend sê die hoof ons moet beheer neem van die lokaal, want die leerders kan nie almal badkamer toe gaan nie en daar kan nie 10 buite gaan staan om neuse te blaas tydens ’n eksamensessie nie.

Want kyk, hierdie leerders is baie slim en as een uitgaan, weet die res hulle moet ook toegelaat word. En as ’n leerder vyf minute kan om kry deur uit te gaan en neus te blaas, gaan hulle die kans met albei hande aangryp.

Daar is niks só stil en in dieselfde asem so raserig soos ’n eksamenlokaal nie. Ek bid saggies dat leerders nie sal hoor hoe my maag soos ’n brullende leeu grom terwyl ek op en af in die rye stap nie.

Die kinders klink soos ’n koor met al die gesnuif-snuif en gehoes-hoes.

Elke keer as een se hoes so ’n kraakgeluid maak, is daar baie kommentaar in die vorm van geluide, eish, oeh en heh?

Ek wonder waar die kultuur vandaan kom om skok, ontevredenheid en dalk selfs verbasing in ’n klank uit te druk.

My gedagtes dwaal dan onwillekeurig na my eie preke aan my leerders oor hoe ons opgevoed is en dat ons onsself moet uitdruk deur ons woorde te gebruik en nie geluide nie. Ons het gevorder as mensdom en ons moet dit mos wys. Watter beter manier as om ons kleurvolle woordeskat te gebruik?

Hoogs geïrriteerd met die kakofonie loop ek agtertoe waar ’n leerder in die agterste ry haar hand opsteek. Sy vra of sy haar neus buite kan gaan blaas.

Ek dog hier is my kans om tande te wys en beheer te neem.

Ewe braaf sê ek vir haar dat ek met liefde die toiletpapier vir haar sal bring en dat sy sommer net daar haar neus kan blaas.

Fout van my lewe!

Die eerste blaas was niks buitengewoon nie. So tien gesiggies het opgekyk, ’n paar het hulle ongemak en vermaak gedeel met die klas deur geluide te maak.

Sy maak redelik vinnig klaar en ons beweeg aan… die stilte het net vir drie sekondes geduur voor sy wéér begin blaas. Sy gaan haal vir hom dáár agter, daar onder by die medula oblongata (breinstam). Nou kyk amper almal op, eers vir haar, toe vir my. Ek gee net ’n paar vuil kyke (wat ek tevergeefs probeer afwater) vir die wat nie die lag kan inhou nie. Ek stap aan, want soms, net soms, moet ’n mens ook maar Gods water oor Gods akker laat vloei.

Ná ’n paar sekondes, wat voel soos ure, hou sy uiteindelik op. Of so het ek gedink. Sy is soos ’n kat met nege lewens en ek besef toe: nee, sy skep net gou asem. Ná die asemteug begin sy weer blaas en blaas en ek dog sekerlik kan dit nie meer langer duur nie.

Die klank wat eers hard was, het nou verander in ’n hoë tipe fluitgeluid en almal hou haar dop. Histerie bars los, party lag kliphard, ander giggel, ander maak geluide. Ek kyk af ondertoe en dink by myself: dit was die laaste keer!

In die toekoms moet die leerders maar liefs eerder hul neuse buite gaan blaas. Ek gaan ons skoolhoof se raad volg en my maar eerder besig hou met die regte goed. Want dan, hopelik, sal die regte goed met my gebeur.

Related Articles

Back to top button