Letters

Brief: Rus sag Paul, jy was ’n vriend by uitstek

Paul het nie net na my motor omgesien nie, hy het ook ’n steunpilaar geword.

Denise Edwards, Bela-Bela, skryf:

Ek was die afgelope naweek baie geskok om van die onverwagse dood van Paul Strydom te verneem.

Ek was ná my egskeiding genoodsaak om ’n betroubare werktuigkundige in Bela-Bela te bekom wat nie net na my ouerige voertuig sou omsien nie, maar ook in ag sou neem dat geld nie altyd volop is nie.

’n Vriend het vir Paul aanbeveel en ’n kosbare vriendskap het ontwikkel. Ek noem dit ’n vriendskap, want hy het nie net na my motor omgesien nie, hy het ook ’n steunpilaar geword, ’n vriend en ’n vaderfiguur vir my gesin. Ek kon enige tyd op sy knoppie druk en weet daar sal hulp wees.

Ek wil graag ’n goue herinnering deel: Op ’n gegewe dag het my voertuig weer aandag nodig gehad en toe ek vir Paul vra wat die koste sal wees, het hy sonder om te aarsel ’n bedrag gesê wat nie naastenby die omvang van die werk weerspieël het nie. Toe ek hom daaraan herinner, het hy gesê:

“Ek kan nie verwag dat God my moet help as ek nie bereid is om ’n ander persoon te help nie.”

Sy werk was sy trots en geld was ’n bysaak. Dit het so ’n indruk op my gemaak dat ek my sienswyse ook verander het en sake deesdae anders benader.

Sy skielike afsterwe laat ’n groot leemte in menige mense wat hom geken het, se lewens.

Rus sag, my vriend.

Related Articles

Back to top button