Letters

Brief: Mills se passie vir dorp sal gemis word

Hy was altyd ten volle voorbereid vir enige projek wat hy aangepak het en het groot sukses behaal, veral by die munisipaliteit.

Tinus Ras, voormalige DA-raadslid, Bela-Bela, skryf:

Ek het Johan Mills in 2014 ontmoet en onmiddellik besef dat hy ’n groot passie het vir sy land, dorp en die gemeenskap.

Hy was toe die voorsitter van AfriForum in die dorp, voorsitter van die belastingbetalersvereniging (BBTF) en ook betrokke by die Geloftefees-vieringe.

Hy het vir die meeste van sy werk geen vergoeding ontvang nie en het lang ure gewerk.

Hy was altyd ten volle voorbereid vir enige projek wat hy aangepak het en het groot sukses behaal, veral by die munisipaliteit.

Hy het op sy laat ouderdom steeds kans gesien om die politiek te betree en in belang van die gemeenskap optree. Hy was ook die sleutelfiguur in die loodskomitee van die botaniese tuin wat beplan word vir Bela-Bela.

Hy is in November 2021 as raadslid verkies waarna hy in sy kenmerkende styl probleme en ongerymdhede in die raad aangespreek het. Dit het gelei tot sy aanstelling as lid van die uitvoerende komitee.

Johan het ten spyte van sy gesondheid nooit teruggedeins van sy verpligtinge nie. Hy het met groot inisiatief volstoom sy aandag daaraan gewy.

Ons wil ook sy vrou, Vera, en familie bedank vir hul volgehoue ondersteuning.

Ek as vriend en die inwoners van Bela-Bela gaan hom vir seker mis.

Rus in vrede, Johan.

Related Articles

Back to top button