Letters

Brief: VF Plus hard aan die werk om te help met cholera-uitbreking in Hammanskraal

Die departement van gesondheid het mense met simptome van diarree, maagkrampe, ontwatering en braking aangemoedig om dadelik mediese hulp te soek.

Rina Marx, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gesondheid: Tshwane-metroraad, skryf:

Die VF Plus in die Tshwane-metroraad het sedert die uitbreking van cholera in Hammanskraal verskeie noodmaatreëls laat instel om te sorg dat mense ingelig is en van vars water voorsien word.

Buiten watertenkwaens wat drie keer per week na Hammanskraal gestuur word, word bykomende vars water vyf keer per week aan inwoners verskaf.

Die dodetal staan volgens die VF Plus se inligting reeds op 15 en meer as ’n 100 mense is al vir behandeling na die Jubilee-distrikshospitaal in Hammanskraal verwys.

Die hospitaal het reeds twee bykomende sale oopgestel en omliggende hospitale en klinieke sal ondersteuning bied.

Die Tshwane-metro het Sondag watermonsters na ’n laboratorium gestuur om die oorsaak van die hoogs aansteeklike siekte vas te stel.

Die VF Plus se departement vir gesondheid sal alles in hul vermoë doen om die siekte in bedwang te bring.

Die departemente van gemeenskaps-veiligheid en natuurbewaring is ook op die toneel vanwaar hulle die situasie vanuit ʼn mobiele beheerstelsel koördineer.

Die departement van gesondheid het mense met simptome van diarree, maagkrampe, ontwatering en braking aangemoedig om dadelik mediese hulp te soek.

Die VF Plus is besorg oor almal in die gebied en sal met die ondersteuning van die Gautengse departement van gesondheid alles doen om die bron van die besoedelde water vas te stel en om die situasie onder beheer te bring.

Related Articles

Back to top button