Letters

Brief: Wie boikot ons volgende?

Wat ek waardeer van my generasie, is hoe ons ook gekenmerk word aan persoonlike grense stel, aandag aan geestesgesondheid gee en ook meer inklusief en aanvarend is.

Gen Z’er, via e-pos, skryf:

Ek giggel in my mou vir al die regses.

My Twitter newsfeed is die afgelope tyd oorstroom deur die hele Dylan Mulvaney en Bud Light-debakel. Dit gons wêreldwyd oor hierdie vennootskap.

Mulvaney is ’n Amerikaanse aktrise en komediant wat veral bekendheid verwerf het toe sy in 2022 haar geslagsveranderingsreis op TikTok gedeel het. Sy het selfs verlede Oktober met pres. Joe Biden by die Withuis oor transgenderregte gepraat. Hierdie transvrou het meer as 10 miljoen volgelinge op TikTok en haar videoreeks, Days of Girlhood, het meer as een miljard trefslae gekry.

Sy het onlangs deel geword van die gewilde bier Bud Light se bemarkinsgveldtog en dinge het gou handuit geruk — tot op die punt waar die sanger Kid Rock bierkaste aan flarde geskiet het.

’Merikaners het sover gegaan om vragte blikkies bier te koop en dit plat te ry met trekkers, stootskrapers en alles wat ’n wiel het. Op gesigswaarde sou ’n mens dink hierdie is groot skade …
maar Bud Light lag steeds al die pad bank toe. Verkope is verkope, ongeag wat daarmee aangevang word, nie waar nie?

Nou vra my pa: “Wat gaan in die langtermyn gebeur?” Niks.

Bierdrinkers sal mettertyd weer terugkeer na hul gunstelingdrankie. Dit is ook nie die eerste keer dat hulle bottels en blikkies in reënboogkleure drapeer is nie. Onthou jy die “boikot DStv”-brigade? Steve Hofmeyr en al sy aanhangers het mos hul skottels afgeruk en flenters gery. Daardie groot bohaai op sosiale media het mettertyd ’n stille dood gesterf — en DStv staan nog. Inteendeel, daardie aanhangers het maar mettertyd hul skottels vervang. Spur, Clicks en Dischem se deure is ook nog oop.

Maar laat ek nou nie hier sit en skryf asof my generasie nie deel van die probleem is nie. Cancel culture is very much a thing en Gen Z is voor in die koor. Wat ek egter waardeer van my generasie, is hoe ons ook gekenmerk word aan persoonlike grense stel, aandag aan geestesgesondheid gee en ook meer inklusief en aanvarend is. Live and let live.

Ek hoor sommer al in my agterkop hoe Helen Zille weer tekere gaan en woke rondgooi. Sy moet in elk geval net van socials af bly. Kan iemand asseblief haar selfoon by haar afneem? Sy doen deesdae haar en die DA se beeld meer skade as goed. Ek sukkel om te sien hoekom jongmense nog vir haar party moet stem. In alle eerlikheid, daar is nie tans ’n enkele party waarby die jongklomp regtig kan aanklank vind nie. Wel, die jongklomp wat nie soos zombies agter hul slimfone skuil en nie weet wat om hulle aangaan nie. Óf die jong volwassenes wat nog ja en amen en te bang is om hul eie mening te hê.

Ag, ons Gen Z’ers moet ook maar soms ons koppe laat lees. Ons het skoon vergeet van Werkersdag en eerder selfies geplaas saam met ons Prime-bottels. Prime het ’n TikTok-sensasie geword en word toe plaaslik sommer teen byna R400 per 500 ml bottel verkoop. Op Werkersdag haal dit Checkers se rakke teen net onder R40 en mense het hul koppe verloor. Ek lees daar was elders ellelange toue wat omtrent straataf gestaan het vir hierdie hidrasie- en energiedrankies. Dit is sinneloos — R400 of R40 — en jy kan my nie anders oortuig nie.

Ek voorspel die hype sal iewers soos mis voor die son verdwyn. ’n Twitter-gebruiker spot juis dat ons oor ’n paar maande in Checkers sal stap en drie vir R40 sal kan opraap. En die mensdom sal ook weer aanbeweeg van die Bud Light-sage. Dat drankies die mensdom so op hol kan jaag …

  • ‘Teksboodskap van ’n Gen Z’er’ is ’n meningstuk en weerspieël nie noodwendig dié van Die Pos nie.

Related Articles

Back to top button