Letters

Brief: Net die ANC is verantwoordelik vir die Poskantoor se verknorsing

Dit is totaal onaanvaarbaar dat die Poskantoor toegelaat is om so ver van die pad af te dwaal.

Tammy Breedt, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -LP, skryf:

Die agteruitgang en finansiële verknorsing waarin die Suid-Afrikaanse Poskantoor hom bevind, kan net voor die deur van die ANC-regering gelê word.

Dit is arrogant van die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, om die Poskantoor se krediteure en ander ondernemings daarvoor te verkwalik.

Die minister het selfs aangekondig dat die Poskantoor se sogenaamde omkeerstrategie ’n rol sal speel in die ekonomiese en digitale insluiting om landelike huishoudings toegang tot regeringsdienste te gee.

Dit wys hoe ver die ANC van die werklikheid verwyder is aangesien talle plattelandse poskantore eerder hul deure moes sluit.

Die Poskantoor is veronderstel om ’n noodsaaklike basiese diens te lewer — ook aan die meer as sewe miljoen Sassa-begunstigdes wat van die Postbank afhanklik is vir die uitbetaling van hul maandelikse toelaes.

’n Verslag wat verlede jaar uitgereik is, bevestig dat mense in die Postbank misdadige sindikate gehelp het om meer as R150 miljoen van Sassa-toelaes te steel.

Die swak beveiligde Postbank het boonop in Desember toelae-ontvangers gekeer om kitsbank-onttrekkings met hul Sassa-kaarte te maak weens ’n verdere R18 miljoen wat gesteel is.

In 2020 is berig dat Postbank se hoofsleutel tydens ’n datasentrum-migrasie in Julie 2018 verkeerd gestoor is en dat 25 000 bedrieglike transaksies plaasgevind het.

Sassa-begunstigdes hou dus elke maand asem op wanneer hulle poskantoor toe gaan om hul geld te onttrek.

Dit is totaal onaanvaarbaar dat die Poskantoor toegelaat is om so ver van die pad af te dwaal.

Indien die Poskantoor nie sy sakeplan dringend hersien nie, sal daar geen positiewe uitkoms vir dié instansie wees nie.

Onder die ANC-regering sal dit egter nie gebeur nie. Die enigste oplossing is om die Poskantoor te privatiseer en om van die ANC-regering ontslae te raak.

Related Articles

Back to top button