Letters

Brief: Dit gaan harde werk kos om ANC-vernietiging om te keer

Die regering se vyandige houding teenoor groot sake-ondernemings en gepaardgaande beperkende beleidsrigting sal moet verander ten gunste van ware ekonomiese ontwikkeling.

Dr. Pieter Groenewald, nasionale leier van die Vryheidsfront Plus (VF Plus), skryf:

’n Ekonomiese herstelplan wat die VF Plus, in samewerking met van die land se voorste kundiges, laat opstel het, bring hoop, maar harde werk wag om Suid-Afrika van die afgrond weg te stuur.

Die land beleef tans ’n ongekende ekonomiese krisis weens die wanbestuur en vergrype van die ANC-regering. Dit is die langste ekonomiese insinking in die land se geskiedenis en het in Desember 2013 reeds begin.

Die VF Plus besef dat die nodige planne in plek moet wees om Suid-Afrika op die herstelpad te plaas wanneer die ANC as regering vervang word met ’n werkbare koalisie waarvan die VF Plus ’n integrale deel sal vorm.

’n Ekonomiese herstelplan is daarom ontwikkel, in samewerking met die politieke ekonoom prof. Jannie Rossouw en Mike Holland, ’n ekonoom en direkteur van PriceMetrics, ’n ekonomiese navorsingsmaatskappy wat spesialiseer in mededinging en regulatoriese ekonomie.

Dié plan herbevestig die VF Plus se breë ekonomiese beleid en standpunte.

Die probleme wat die ANC geskep het deur skadelike beleid en ongebreidelde korrupsie, het gelei tot trae ekonomiese groei en beperkte werksgeleenthede. Die belastingbasis krimp toenemend terwyl maatskaplike besteding dienooreenkomstig toeneem.

Dit, asook die regering se buitensporige salarisrekening, het enorme staatskuld en gepaardgaande rente op die skuld tot gevolg wat die fiskale afgrond al hoe nader bring.

Die herstelplan beveel onder meer die volgende stappe aan om oor die kort termyn ekonomiese groei te stimuleer:

  • Vervang die gefaalde swart ekonomiese bemagtigingsbeleid (SEB) met doelgerigte vaardigheidsontwikkeling.
  • Skep ’n proses om onnodige regulasies wat ekonomiese aktiwiteit rem, te hersien.
  • Die regering moet in totaliteit aan die Suid-Afrikaanse Airways (SAA) onttrek.
  • Vergemaklik die vestiging van nuwe sake-ondernemings.
  • Vestig beleidsekerheid wat beleggingsvertroue verhoog.

Baie van die voorwaardes wat die plan identifiseer vir ekonomiese herstel, is polities van aard. Die ekonomiese hervormings wat aanbeveel word, kan daarom nie bereik word sonder fundamentele aanpassings nie.

Die VF Plus is daarvan oortuig dat slegs die vrye mark ekonomiese waarde volledig kan ontsluit, skep, bevorder en beskerm.

Die regering se vyandige houding teenoor groot sake-ondernemings en gepaardgaande beperkende beleidsrigting sal moet verander ten gunste van ware ekonomiese ontwikkeling.

Geen regering kan volhoubaar werksgeleenthede op sy eie skep nie. Werkloosheid kan slegs oorkom word indien regeringsbeleid verander word om ’n gunstige omgewing vir werkskepping en beleggings te bewerkstellig.

Persoonlike en maatskappybelasting moet verlaag word ten einde belegging in die ekonomie te stimuleer en werk te skep.

Die VF Plus se ekonomiese beleidsraamwerk stel ook ’n fiskale kommissie voor wat soortgelyk aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal werk.

’n Bogrens vir staatsbesteding moet geformuleer word. Wanneer dit bereik word, sal die fiskale kommissie die bevoegdheid hê om BTW te verhoog. Wanneer die gevaar afneem, moet dié koers weer verlaag word.

Die beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) het gelei tot die eensydige bemagtiging van swart elite waardeur welvaart eerder rondgeskuif as geskep word.

Die VF Plus is van mening dat welvaart nie geskep kan word deur rykdom te verdeel nie.

SEB het tot gevolg dat bates bloot uitgedeel word aan spesifieke swart individue, pleks daarvan om entrepreneurskap en gemeenskapsopheffing aan te wakker.

Ekonomiese bemagtiging in Suid-Afrika behoort nie te fokus op die verryking van enkele individue nie, maar op die werklike bemagtiging van totale gemeenskappe.

Die VF Plus glo dat velkleur nie gebruik kan word as ’n veralgemeende aanduiding van minderbevoorregting nie en nie kan geld as ’n voorwaarde vir bemagtiging nie.

Sosio-ekonomiese omstandighede soos armoede, werkloosheid en ’n gebrek aan toegang tot gehalte onderwys moet eerder as die grondslag vir bemagtiging gebruik word. Groei en ontwikkeling is die enigste volhoubare bemagtigingsmetode.

Die oorkoepelende struikelblokke wat ekonomiese groei beperk, kan volgens die plan oorkom word deur die uitwissing van korrupsie en staatskaping; betroubare elektrisiteitsvoorsiening; die vervanging van SEB met vaardigheidsontwikkeling; regulatoriese duidelikheid en beleidsekerheid.

Dit is duidelik uit bostaande dat die ekonomiese herstelpad ’n lang en moeisame tog sal wees wat groot aanpassings sal verg.

Die goeie nuus is dat ’n regering wat die land en sy mense eerste stel, dit wel kan doen. Die belangrikste stap om dit te bewerkstelling, is deur die ANC by die stembus uit die regering te verwyder.

Related Articles

Back to top button