Letters

Brief: Uit die hart van ’n ‘mirrellyn-mamma’

Hier van die kantlyn af dryf ons saam met die voorry in die skrum en hol saam met die agterlyn wanneer die manne op pad is doellyn toe.

Mariëtte Nicholson, Modimolle, skryf:

Ons “mirrellyn-mammas” is ’n spesie van ons eie en is lekker grootbek langs die rugbyveld.

Ons skree ons longe uit om ons span te ondersteun.

Hier van die kantlyn af dryf ons saam met die voorry in die skrum en hol saam met die agterlyn wanneer die manne op pad is doellyn toe — dit terwyl ons luidkeels die “game plan moves” vir hulle uitskree.

Ja, en natuurlik kan ons ook lekker vuil kyke uitdeel vir die opposisie en sommer vir die skeidsregter, of soos ons hom noem, die ref. Ons maak dit duidelik dat hy nog ’n paar rugbyreëls moet leer. Ditsem Boeta, tackle daai man, dis óns bal … pale toe!

Nee, ons stem nie altyd saam met die ref se beslissings nie. Genade, die man kon mos sien dit was ’n knock-on of ’n forward pass. (Ja, ons gooi die Afrikaans en Engels deurmekaar daar langs die veld).

En niémand gaan mý seun so tackle nie — ken die ref dan nie sy reëls nie? Hy kon verseker daardie drie toegeken het — die ander span was dan onkant en hulle houding stink! En daardie outjie se ma kyk verniet so vir my! (Jip, mirrellyn-mammas sê dit soos dit is!).

Maar ons “mirrellyn-mamma’s” kyk uit vir élke speler op die veld. Dit is hoekom ons meeste van die tyd so minuut of twee “agter” is in die spelverloop.

Ons span? Julle span? Maak nie saak nie. As daar ’n man bly lê ná die losgemaal of ’n harde duikslag, is ons almal aan mekaar se kant. Dan is daar net één telling wat vir ons almal saak maak — dat die speler (ons span/julle span) opstaan en “okei”’ is, want op die ou einde is ons almal maar net ’n ma met ’n boeta op die veld wat sy beste gee.

Related Articles

Back to top button