Letters

Brief: Cele moet sê oor toename in massamoorde

Hierdie voorvalle het in die boekjare 2019/20 tot 2021/22 jaarliks toegeneem.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus (VF Plus)-leier, skryf:

Voorvalle van massamoord in Suid-Afrika is besig om skerp toe te neem.

Vanaf 1 April 2019 tot 30 Desember 2022 is altesame 5 709 mense in die land in 2 446 voorvalle vermoor.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het dit bekend gemaak in antwoord op ’n parlementêre vraag van die VF Plus.

Buiten die moordsyfer, is dit ook onstellend dat hoewel 1 511 persone in verband met die moorde in hegtenis geneem is en in die hof verskyn het, slegs 103 (’n skrale 6,8%) skuldig bevind is.

Anders gestel, van die 1 511 persone wat in hegtenis geneem is, is 1 408 onskuldig bevind. Dit is ’n aanduiding van swak ondersoekwerk en sal verduidelik moet word.

Massamoord is waar twee of meer persone in dieselfde voorval vermoor word.

Hierdie voorvalle het in die boekjare 2019/20 tot 2021/22 jaarliks toegeneem van 438 voorvalle en 1 009 sterftes in 2019/20 tot 769 voorvalle en 1 791 sterftes in 2021/22.

Die meeste voorvalle en sterftes vind in KwaZulu-Natal plaas met Gauteng daarnaas.

Met ’n moordsyfer van vyf keer meer as die wêreldgemiddeld (7 vir elke 100 000 mense en Suid-Afrika 36 vir elke 100 000), die omvang van massamoord en ander misdaad in Suid-Afrika, die probleme in die polisie en die onvermoë om misdadigers suksesvol te vervolg, is dit duidelik dat die regering nie die inwoners van die land teen misdadigers kan beskerm nie.

Die jongste misdaadstatistiek bewys dat misdaad buite beheer raak en minister Cele moet die verantwoordelikheid daarvoor neem.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button