Letters

Brief: VF Plus dien klag in by MRK oor lugbesoedeling by Medupi

Die Handves van Menseregte bepaal dat alle mense die reg het om in ’n omgewing te woon en te werk wat nie skadelik vir sy of haar gesondheid en welsyn is nie.

Marcelle Maritz, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -LPW en provinsiale leier: Limpopo, skryf:

Ná vele klagtes van inwoners van die Lephalale-plaaslike munisipaliteit (Ellisras) oor voorkombare lugbesoedeling by die Medupi-kragsentrale, het die VF Plus ’n klag by die menseregtekommissie (MRK) hieroor ingedien.

Die groot oorsaak van die lugbesoedeling is die wegdoening van verbrande steenkool se as. Dit word nie gedoen nie en lê klaarblyklik op ’n groot hoop vanwaar dit rondwaai.

Die as word nie meer per vervoerband na die Matimba-ashoop vervoer nie, maar langs die kragstasie gestort.

Die geringste briesie waai die fyn as oor die stortingsterrein, dorp en omgewing.

Dit is duidelik dat Eskom nie dieselfde rehabilitasieprogram volg soos wat met die Matimba-ashoop gedoen is nie.

Die wyse waarop die as gestort word, is nie volgens redelike omgewingsregulasies nie en kan tot verhoogde gesondheidsrisiko’s vir inwoners lei.

Daar is duidelik ’n laksheid by Eskom rakende lugbesoedeling. Al sukkel Eskom om die ligte aan te hou, moet hy gedwing word om die bes moontlike voorsorg te tref om lugbesoedeling te verminder.

Die VF Plus het die MRK versoek om die lugbesoedeling dringend te ondersoek en Eskom te dwing om die nodige maatreëls in plek te stel.

Die Handves van Menseregte bepaal dat alle mense die reg het om in ’n omgewing te woon en te werk wat nie skadelik vir sy of haar gesondheid en welsyn is nie.

Besoedeling en ekologiese agteruitgang moet ook voorkom word.

Die VF Plus sal die vordering van die saak moniteer en in die beste belang van inwoners optree.

Related Articles

Back to top button