Letters

Brief: TLU SA lê klag by MRK teen Cosatu wat boere verkragters en moordenaars noem

Hierdie stelling is ’n gruwelike veralgemening ten koste van die goeie verhouding tussen boere en hul werkers.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, skryf:

Dit is asof Cosatu elke dan en wan besef hulle het iets nodig om blootstelling te kry en politieke munt te slaan en dan besluit om opruiende stellings te maak oor iets wat hulle weet hulle ondersteuners gaan gebruik, soos dat boere moordenaars, rassiste en verkragters is.

Hulle dink duidelik nie aan die gevolge wat dit vir boere inhou nie.

TLU SA het daarom besluit om ’n streep te trek teen ongegronde en nadelige stellings teen boere en het ’n klag van haatspraak teen Cosatu by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ingedien.

Cosatu het op Menseregtedag (21 Maart) ’n nasionale verklaring uitgereik waarin die vakbondfederasie beweer dat plaaswerkers regoor die land uitgebuit en mishandel word. Die verklaring lui verder dat boere hulle werkers aanrand, verkrag en vermoor.

Hierdie stelling is ’n gruwelike veralgemening ten koste van die goeie verhouding tussen boere en hul werkers.

TLU SA se standpunt is deurentyd dat indien daar enige oortreding van ’n wet is, die regsproses sy gang moet gaan. Saaknommers moet as bewys verskaf word.

Dit is onaanvaarbaar dat enige instansie so ’n veralgemening kan uiter sonder enige gronde. TLU SA eis dat Cosatu onvoorwaardelik verskoning moet aanbied teenoor elke boer in die land en verder skadevergoeding van R5 miljoen moet betaal aan slagoffers van plaasaanvalle.

Related Articles

Back to top button