Letters

Brief: Hallo Eskom? Hallo, hallo? Is iemand tuis?

Ons land is sonder krag en sonder diens.

Marietjie Page, Doornfontein-omgewing, Modimolle, skryf:

Ek is ’n boorling van die Waterberg-distrik.

Ek het op 1 Augustus 2022 ’n e-pos aan die kliëntediens van Eskom gestuur in verband met ’n astronomiese hoë rekening wat ek ontvang het vir die vorige maand (Julie 2022) en gevra vir ’n verklaring vir dié buitensporige bedrag.

Ek het my navrae in September en Oktober opgevolg aangesien daar tot op datum geen terugvoering ontvang is nie. Ek het in November weer ’n e-pos gestuur en genoem dat ek nou maar die stadsklerk sal nader om hulp aangesien die mense wat in die kliëntediens-afdeling aangestel is, nie die werk doen nie.

Groot was my verbasing toe my e-pos dieselfde dag beantwoord is deur Sarah Masebe, met ’n verwysingsnommer, en sy my vriendelik bedank het dat ek van Eskom se kliëntediens gebruik gemaak het.

Die volgende dag kry ek weer ’n e-pos van ene Mnatselagale Machaba wat my meedeel dat ek asseblief ’n foto van die lesing op die paal moet stuur. Ek het in my volgende e-pos verduidelik dat vyf maande reeds verloop het sedert die foutiewe rekening gestuur is en dat ek die 15de van elke maand ’n foto neem en vir hul rekorddoeleindes aanstuur.

Een van Eskom se beamptes besoek elke tweede maand die plaas en hy neem dan self ook ’n foto van die lesing. Indien hulle die rekening wou nagaan, kon hulle die bestaande rekords by hulle opvolg.

Dit is nou Maart 2023 en bykans ’n jaar het verloop sonder dat die foutiewe rekening reggestel is. Ek het nog steeds nie my antwoorde gekry nie en sal dit seker moet beskou as ’n verlore saak.

Ek wens ons was terug in die tyd waar navrae flink en sonder huiwering afgehandel is. Daar is beslis mense in poste wat goeie salarisse verdien, maar wat nie die werk doen wat aan hulle pos gekoppel is nie.

Ons land is sonder krag en sonder diens — dit is sleg!

Related Articles

Back to top button