Letters

Brief: ‘Slay!’ Dit is nie Y2K van vooraf nie

Onthou jy die groot vrees toe die wêreldklok oorslaan na die nuwe millennium?

Ek hang aan my ouers se lippe wanneer hulle vertel hoe almal in paniek was oor die sogenaamde Y2K-krisis waaroor daar bespiegel is. Ek was ’n pap baba terwyl almal om die braaivleisvuur gegis het oor al die samesweringsteorieë.

Die 90’s was reeds ’n skokdekade vir wêreldburgers. Daar was selfs ’n jaar toe konining Elizabeth, of “Lizzy” soos ons jonges haar deesdae noem, as ’n annus horribilis bestempel is. Siestog, die 90’s was werklik ’n ramp vir die Britse koninklikes. Nie dat ek dink hul beeld het veel herstel sedertdien nie (here’s looking at you, Harry). Onthou tog ook groot gebeure soos die Persiese Golf-oorlog, die verval van die Oos Europese kommuniste Party, Nelson Mandela wat president van Suid-Afrika geword het en die Taliban wat Kaboel oorgeneem het.

Maar tussendeur al hierdie opskrifte is ’n nuwe generasie gebore. Millenials, maak plek: Gen Z is hier. Dit is die generasie wat tussen 1997 en 2013 gebore is. Baby Boomer, gee dit jou ekstra plooie wanneer jy besef dat van hierdie “kinders” al die werksplek betree het? Besef jy die gevreesde millenials sit al in senior posisies?

Kyk, tyd wag vir niemand nie.

Ek besef onlangs die gety begin draai toe ek ’n nuwe huisdokter raadpleeg. Die dokters uit my kinderjare was almal ouer blanke ooms met spierwit hare in formele pakke. Hier stap ek in, snak na my asem en gryp my denkbeeldige pêrels: Hierdie lyk na alles behalwe waaraan ek gewoond is. Voor my sit ’n jong vrou met gekleurde hare, tattoeërmerke en scrubs.

En, liewe leser, laat ek jou vandag vertel, dit is die beste doktersbesoek wat ek nóg gehad het. Dit was gemaklik, sy ken duidelik haar storie en sy het daar en dan vir my ’n afspraak by ’n spesialis gemaak sonder om te oe of aa. Stom sit ek daar, want dit is die eerste huisdokter wat nie sommer maar net ’n vae verwysingsbrief en voorskrif vir pynpille in my hand stop nie. Never judge a book by its cover. Die millennial-dokter is cool and capable.

Daarom vra ek, moenie skrik wanneer ’n Gen Z’er op kantoor opdaag nie. Gee ons ’n kans. Ons is nie die nagevolg van Y2K-sameswerings nie — belowe. Ons is wel meer oop, vry en stel beslis grense. Ons het immers geleer uit ons ouers se foute wat wissel van cringe-opmerkings tot swak politieke keuses.

Ons is die generasie wat omgee oor geestesgesondheid, gelykheid en geregtigheid. Noem dit maar woke as dit jou sal laat beter voel. Slay! Al verstaan jy nie altyd so mooi watter vreemde woorde ons gebruik nie.

Related Articles

Back to top button