Letters

Brief: Dit neem tyd om foute te herstel

Ons almal kla as ons sonder krag sit — ek inkluis, maar ons moet geduldig wees. So ’n fout word nie binne ’n paar minute herstel nie.

Stieler van Eeden, inwoner van Bela-Bela, skryf:

Ek merk op sosiale media hoeveel kommentaar geplaas is oor die voortdurende kragonderbrekings wat inwoners van Bela-Bela die afgelope naweek ondervind het.

Sommige van die kommentaar is egter nie deur kundige mense gelewer nie en daarom voel ek as ’n gesoute tegnikus met baie ondervinding om inwoners in te lig wat die proses behels om ’n kragkabel te las.

Om ’n fout op te spoor in ’n hoogspanning kabel is nie ’n maklike taak nie en moet met groot omsigtigheid hanteer word. Eerstens moet die foutiewe kabel geïsoleer word deur skakelwerk te doen om die kabel van alle toevoerpunte te ontkoppel en geaard word om tegnici en werkers wat aan die kabel werk, te beskerm. Daarna word die toets- en foutnaspeuringinstrumente gekoppel en die soektog begin om die fout op letterlik elke sentimeter van die kabel op te spoor. Die lengte van die kabel, asook die diepte en weersomstandighede, kan foutnaspeuring beïnvloed en die taak bemoeilik.

Sodra die fout min of meer vasgestel is, begin die werk om die kabel oop te grawe en bloot te lê om met die herstelproses te begin. Hier moet ook met versigtigheid te werk gegaan word sodat kabels nie verder beskadig word nie. Sodra die fout gevind is, verlang dit soms dat ’n gedeelte vervang moet word wat dus twee laste vereis.

Dit is ’n tydsame proses om ’n hoogspanning kabel te las en dit vereis goeie opleiding, kennis en ondervinding van die tegnikus. Verder vereis dit nougesette korrektheid, netheid op die werksomgewing, afmetings moet korrek wees en weer nagegaan word, die kabel moet geïsoleer word en verbindings moet gemaak word met korrekte toerusting. Boonop moet die weersomstandighede saamspeel. Vogtigheid en stof kan so ’n las negatief beïnvloed. Nadat die las voltooi is, word die kabel eers weer getoets voordat die skakelwerk en bekragting daarvan gedoen word.

Hiermee wil ek sommer weer vir Valley de Souza bedank. Ek glo hy en sy mense was weer betrokke by die herstel van die foutiewe kabel. Wat gaan die inwoners van Bela-Bela sonder hom doen?

Ons almal kla as ons sonder krag sit — ek inkluis, maar ons moet geduldig wees. So ’n fout word nie binne ’n paar minute herstel nie. Indien daar meer as een fout op die kabel is, neem dit nog langer.

Bly dus kalm en wees dankbaar vir die tegnici en werkers wat hul lewens waag om foute te herstel.

Related Articles

Back to top button