Letters

Brief: Ware liefde is die enigste goud

Valentynsdag se rooi, hoe idillies dit ookal mag klink, druk ongelukkig baie se stresvlak elke jaar in die rooi.

Santie Gildenhuys, Modimolle, skryf:

Dit was al weer sulke tyd. Die rooigety van elke jaar wat ongelukkig niks met krewe uit te waai het nie (of dalk het dit).

Skaars was Desember se Kersrooi iets van die verlede, of Februarie se rooi het ’n amper erger geskarrel veroorsaak. Hierdie keer het die gewoel niks met belasting te doen gehad nie.

Valentynsdag se rooi, hoe idillies dit ookal mag klink, druk ongelukkig baie se stresvlak elke jaar in die rooi. Hoekom alles nie maar net by rooi hakskeentjies kon gebly het nie, is vir baie duister.

Maar o wee, twee aanloklike, rooigeverfde lippies later en twee woelwaters stoei op die rooi sitkamermat.

Die gelollery begin eintlik alles met die woordjie “verwagtings”.

Voor die einde van Januarie reeds is dit asof alles en almal ’n komplot teen jou smee. Orals waar jy instap, kyk ’n rooigestrikte teddiebeer wat ’n koffiebeker vol blinklekkers omhels, jou reg in die oë (gespel: gewete).

Die bemarkers van Valentynsdag is elke keer hiperslim. Die rooi net word wyd gegooi: ou geliefdes, jong geliefdes, gewese geliefdes, moontlike geliefdes, ander se geliefdes — almal word nadergetrek. Tot Kleinboet is aangemoedig om vir Vera-met- die-verlore-voortandjies ’n sagte speelding, ’n sjokoladetjie en ’n geheime briefie te laat aflewer.

Desnieteenstaande glo ek nog altyd in Valentynsdag. ’n Mens hoef nie groot te gaan nie (krewe). Maak net seker dat almal vir wie jy lief is, dit opnuut weet. En ontvang iemand anders se blyk van bewondering in liefde.

“Liefde is die enigste goud, was die mening van die bekende Engelse digter Lord Alfred Tennyson (1809 — 1892).

Ek vertrou almal het dit die afgelope week in rooiletters bevestig.

Related Articles

Back to top button