Letters

Brief: Onopgeloste diefstalsake maak boerdery onmoontlik

Miljoene rande se skade word veroorsaak wat dit vir boere onmoontlik maak om voor te bly.

Marcelle Maritz, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -LPW en provinsiale leier: Limpopo, skryf:

Vir boere in die Mara-, Alldays-, Mogwadi- en Waterpoort-omgewing in Limpopo is boerdery byna ’n onbegonne taak weens die weeklikse diefstal van kragkabels, koperpype, sonpanele en transformators.

Miljoene rande se skade word veroorsaak wat dit vir boere onmoontlik maak om voor te bly.

Sake wat aangemeld word, word nie opgelos nie en polisiekantore op dié dorpe het ’n tekort aan voertuie en mannekrag om die soort sake te ondersoek.

Van Januarie 2022 tot Desember 2022 was daar 148 onopgeloste diefstalsake.

Die VF Plus het nou ’n skrywe gerig aan Limpopo se provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Thembi Hadebe, om dringend met die stasiebevelvoerders van die onderskeie polisiekantore te vergader om die tekort aan mannekrag en voertuie op te los.

Die party het ook ’n versoek gerig aan die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, Florence Radzilani, om ’n oorsigbesoek vir die wetgewer se portefeuljekomitee vir veiligheid aan die betrokke polisiekantore te reël.

Dit is belangrik dat lede van die wetgewer lede self die toedrag van sake bepaal. Dit is duidelik dat ingryping dringend nodig is by hierdie polisiekantore.

Die VF Plus sal nie toekyk hoe voedselsekerheid bedreig word weens misdadige aktiwiteite wat boere op hul knieë dwing nie.

Related Articles

Back to top button