Letters

Brief: VF Plus is trots op Limpopo-matrieks

Hierdie prestasies is voorwaar iets om op trots te wees.

Marcelle Maritz, Vryheidsfront Plus-LPW en provinsiale leier: Limpopo, skryf:

Die VF Plus wens hiermee Limpopo se matriekklas van 2022 geluk met die slaagsyfer van 72,1% en wens hulle sterkte toe met die toekoms wat voorlê.

Ná lang ure agter die boeke is die matrieks se harde werk nou beloon.

Die provinsie se slaagsyfer het sedert 2021 met 5,3% gegroei.

In 2021 het die provinsie 66,7% behaal. Vorige jare se slaagsyfers lyk so:
2018 – 69,4%
2019 – 73,2%
2020 – 68,2%

Limpopo se uitslae het ná KwaZulu-Natal die meeste verbeter.

Die VF Plus wil veral vir Zoë Burman, wat aan die Stanford Lake College gematrikuleer het, gelukwens met haar uitsonderlike prestasie wat haar ’n plek op die gesogte Onafhanklike

Eksamenraad se lys (IEB-lys) vir die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen besorg het.

Zoë het nege onderskeidings behaal en onder meer 100% vir wiskunde gekry. Hierdie prestasie het haar onder die matrieks van 2022 se top 1% in die land geplaas vir wiskunde, Engels Huistaal, lewenswetenskap en fisiese wetenskap.

Die Beweging vir Christelik-Volkseie Onderwys (BCVO) se skole het landswyd 100% behaal en die uitvoerende hoof, Lucia van Wyk, het self die matrieks van die CVO-skool Potgietersrus se uitslae oorhandig.

Jolanie Nel het sewe onderskeidings behaal wat haar onder 5% van alle IEB-kandidate landwyd plaas. Sy is met verbruikerstudie en lewenswetenskap ook onder die beste 1% van alle IEB-kandidate landswyd.

Hierdie is voorwaar prestasies om op trots te wees.

Die VF Plus moedig die matriekleerders wat nie suksesvol was nie, aan om weer te probeer. Hoewel matriek nie alles is nie, is dit die grondslag waarop verdere studie gebou word.

Die VF Plus sien uit daarna om te sien wat Limpopo se 2022-matriekklas in die toekoms bereik.

Related Articles

Back to top button