Letters

Brief: Kersvader ’n ware staatmaker deur die eeue

Baie dankie dat jy deur die eeue heen steeds die grootste gebeurtenis in ons aardse bestaan simboliseer, naamlik Christus se koms.

Santie Gildenhuys, Modimolle, skryf:

Liewe Kersvader, in ’n onderstebo – en agterstevoorwêreld bly jy ’n staatmaker.

Amper soos Joshua Doore, ons oom in die meubelhandel. Jou besigheid, Kersvader, is voorwaar ’n wêreldbekende vriende- en familie-sakeonderneming (sonder winsbejag) wat al oor dekades strek.

Alle briewe met geskenkversoeke kom altyd veilig by jou aan — seker omdat jou adres nog nooit verander het nie.

Al woon jy in ’n koue, verre land, ontsien jy geen moeite om elke jaar getrou al die geskenke uit te soek, dit kleurvol toe te draai en dan op jou rondes te vertrek nie. Deur sneeu, wind, water en droogtes.

In jou tamaaie sak vervoer jy elke kind se droom so versigtig as moontlik. Ek kan myself net indink hoe jy Rudolf en die ander rendiere elke jaar die Leviete voorlees.

Ek weet nie hoe jy dit regkry nie, maar elke geskenk — hoe groot ookal — pas deur alle skoorstene van alle blyplekke. Waar daar nie ’n skoorsteen is nie, moet jy seker deur ’n venster inglip.

Arme jy, Kersvader. Ons weet jy is nie van die maerste nie. Ek sou ook so gelyk het as ek by elke besoekpunt ’n glas melk en gemmerkoekies moes eet wat met groot liefde vir my neergesit is.

Kersvader, die hele wêreld vermoed dat jou sak vanjaar ’n bietjie kleiner sal wees. Ons weet ook dat almal dit nie ewe breed het nie en dat sommige geskenkies klein sal wees. Ons weet die kinders sal verstaan.

Ons wens jou ’n baie voorspoedige reis toe. Baie dankie dat jy deur die eeue heen steeds die grootste gebeurtenis in ons aardse bestaan simboliseer, naamlik Christus se koms. En dat elke geskenk wat jy gaan aflewer, ons sal laat terugdink aan die goud, wierook en mirre as geskenke met Jesus se geboorte.

Ons sal altyd onthou dat die grootste geskenk ooit ons Verlosser aan die kruis was.

Kersvader, dankie dat jy die harde realiteite elke jaar vir ons versag. Jy is baie kosbaar!

— Kersgroete.

Related Articles

Back to top button