Letters

Brief: Onderteken broodnodige petisie om ‘terminale’ Eskom te privatiseer

Privatisering sal groter voordele tot gevolg hê wat binne ’n paar jaar vir die hele Suid-Afrika reuse-ekonomiese vooruitgang kan bring. 

Bennie van Zyl, TLU SA hoofbestuurder, skryf:

Suid-Afrika staan voor ’n keerpunt met sy kragkrisis.

TLU SA doen ’n beroep op die regering om Eskom te privatiseer, want die huidige stand van sake kan die land oor die afgrond stuur.

TLU SA glo die privatisering van Eskom is die enigste antwoord en oplossing vir die land se energie- en ekonomiese krisis. Eskom se probleme is operasioneel en finansieel. Om net aan te hou met klein veranderinge en die heen-en-weer skuif van Eskom se skuld, sal nie die probleem oplos nie.

TLU SA vra dat Suid-Afrikaners nou hul stem dik maak en op die privatisering van Eskom aandring. Thulas Nxesi, minister van arbeid en ook leier van die SAKP, is gekant teen privatisering. Sy vernaamste rede is dat elektrisiteit dan nog duurder sal wees en dat nie alle Suid-Afrikaners toegang sal kry nie. Die ironie is die hele Suid-Afrika tans net sporadies elektrisiteit kry.

Dit is ook geen geheim nie dat internasionale beleggers op ’n ry hul geld aan die land onttrek weens die kragkrisis. Dit lei tot verdere werksverliese en ekonomiese agteruitgang.

TLU SA meen die privatisering sal groter voordele tot gevolg hê wat binne ’n paar jaar vir die hele Suid-Afrika reuse-ekonomiese vooruitgang kan bring.

In ’n nuus-onderhoud sê KW Miller, globale energie-omkeerspesialis, Eskom is ’n “operasioneel disfunksionele, finansieel insolvente, onbetroubare en korrupte entiteit.” Hy sê die pad vorentoe sal bepaal word deur die optrede van krediteure wat ’n groot deel van hoofsaaklik Suid-Afrikaanse regeringsgewaarborgde Eskom-skuld besit. Hy voeg by dat dié skuld veel hoër as die amptelike R400 miljard is.

Miller sê verder Eskom se ware skuld is meer as 75% van Suid-Afrika se totale skuld en dat Eskom se situasie die slegste is wat hy nog in sy hele loopbaan gesien het.

“Dit is omdat hulle elke moontlike probleem het wat jy jouself kan indink.”

Hy gaan verder deur te verwys na bedrog.

“Die koolkontrakte is deurspek met bedrog. Die ketels is verwoes weens swak gehalte kool. Diesel word ook nie doeltreffend benut nie. Hulle brand miljoene liter diesel per dag. Hulle sal in 2023 omtrent R20 miljard net aan diesel bestee.”

TLU SA stem heelhartig met Miller se standpunte en oplossings saam en spreek ons steun aan hom uit.

Ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om hul naam te voeg by die lys van mense wat stem vir ’n volhoubare kragopwekkingsoplossing in Suid-Afrika.

Besoek die webblad en laat jou stem geld. Met die toevoeging van jou naam op die lys maak dit ons stem harder wanneer ons met die regering gaan praat.

Ondersteun TLU SA se veldtog en wees so deel van die oplossing: https://tluveldtogte.co.za/privatisering-van-eskom/ te besoek en voeg jou naam op die lys.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button