Letters

Brief: Moenie oornag ’n wonderwerk verwag nie

Die VF Plus het ’n erg verwaarloosde Wyk 1 as nalatenskap van die DA gekry.

Munisipale-kieser, Bela Bela, skryf:

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) is tot dusver besonder trots op die uitslag van die tussenverkiesing wat op Woensdag 16 November in Bela-Bela gehou is.

Nie net het dié party nou ’n wyksraadslid nie, maar hulle kan ook ’n persoon as proporsionele raadslid benoem.

Vir die Demokratiese Alliansie (DA) is dit sekerlik ’n bitter pil om te sluk nadat die opposisie hulle so oortuigend getroef het. Die DA het vir baie jare in Wyk 1 geseëvier.

Hoe ver die DA van die werklikheid verwyder is, het geblyk toe nasionale DA-leiers op Maandag 14 November tydens ’n vergadering by die Tuintuiste-aftreeoord vertel het wat hulle op parlementêre vlak doen. Op plaaslike vlak wil ons hoor wat hulle kan doen om munisipale dienste te verbeter, asook die redes waarom daar tot dusver nie aan die kiesers se behoeftes voldoen is nie.

’n Verdere gevolg is dat die DA gebaseerde wykskomitee ontbind gaan word. Die wykskomitee sal met hoofsaaklik VF Plus-ondersteuners saamgestel word. Die nuwe komitee sal hopelik meer sigbaar wees met sake om dienslewering te verbeter.

Vir die meerderheid kiesers is dit nie veel van belang watter politieke party op die raad verteenwoordig word nie. Dit dra meer gewig of die verkose raadslid in belang van die belastingbetaler optree en dienslewering deur die munisipaliteit sal verbeter.

Die VF Plus het egter ’n erg verwaarloosde Wyk 1 as nalatenskap van die DA gekry.

Die kiesers het hul steun aan die VF Plus toegesê met die hoop dat verdere verval van Bela-Bela dadelik gestuit sal word en mettertyd die skade te herstel wat swak dienslewering tot gevolg gehad het.

Dit is nie vir ’n minderheidsparty moontlik om oornag die slaggate te vul en al die straatligte te laat brand nie, maar straat vir straat kan die uitdagings aangepak word.
Kiesers sal dus in die volgende verkiesing geleentheid hê om ’n ingeligte besluit te neem indien die VF Plus aan hul verwagtinge voldoen het.

Related Articles

Back to top button