Letters

Brief: Swart ekononomiese bemagting uit en waarde-vir-geld in

Die afskaffing van SEB- en plaaslike inhoudvereistes in die nuwe voorkeurverkrygingsregulasies is belangrik.

Sakeliga, via e-pos, skryf:

Sakeliga kan nou aankondig dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en plaaslike inhoudvereistes (“local content”) in staatsverkrygingsregulasies uiteindelik geskrap is danksy ons vyf jaar lange hofstryd teen die minister van finansies.

Nuwe regulasies wat verlede week deur die minister van finansies uitgevaardig is in die nasleep van Sakeliga se konstitusionele hof-oorwinning teen SEB in staatstenders, sal op Maandag 16 Januarie 2023 in werking tree met geen SEB- of plaaslike inhoudvereistes nie. Selfs die definisie van “B-BBEE” is uit die nuwe regulasies verwyder.

Belangriker nog — soos Sakeliga later vandeesweek in ’n verslag sal wys — hoef staatsdepartemente, insluitend munisipaliteite, nie eers tot 16 Januarie 2023 te wag om alle SEB- en plaaslike inhoudvereistes uit hul tenderprosedures te verwyder nie.

Hulle is onmiddellik vry om hulself slegs tot normale waarde-vir-geld-verkryging te verbind en is as ’n reël nie onderhewig aan verpligte SEB- of plaaslike inhoudvereistes nie.
Ná ’n vyf jaar lange litigasiestryd teen die minister, het die konstitusionele hof in Februarie vanjaar in Sakeliga se guns bevestig dat die minister se 2017-voorkeurverkrygingsregulasies onwettig en ongrondwetlik is.

Die regulasies het onder meer voorafdiskwalifikasie van tenderaars op grond van SEB-punte ingestel en ander SEB-, subkontrakterings- en plaaslike inhoudvereistes vir tenders aan staatsdepartemente opgelê.

Die hof het die ongeldigheid van die 2017-regulasies tot 16 Januarie 2023 opgeskort om die minister geleentheid te bied om nuwe, wettige regulasies te maak.

Die afskaffing van SEB- en plaaslike inhoudvereistes in die nuwe voorkeurverkrygingsregulasies is belangrik en getuig van die potensiaal van litigasie om SEB en ander skadelike staatsbeleide terug te rol.

Dit is egter voorsienbaar dat die minister sal poog om SEB- en plaaslike inhoudvereistes weer in toekomstige regulasies in te stel, of dat sulke vereistes in ander wetgewing sal insluip.

Baie staatsentiteite en munisipaliteite sal egter nie vanself hul grondwetlike plig opneem om hul verkrygingsonafhanklikheid te herstel nie.

Baie sal waarskynlik voortgaan om hul bevoegdheid en verkrygingsonafhanklikheid aan die nasionale uitvoerende gesag te abdikeer.

In sulke gevalle sal dit op sakelui en ander lede van die publiek aangewese wees om veral hul munisipaliteite tot verantwoording te roep en te eis dat hulle hul onafhanklikheid verseker wanneer dit by verkryging kom. Hulle behoort dit te doen in die belang van verbeterde staatsdienste en die afweer van die ekonomiese katastrofe wat veroorsaak word deur growwe ondoeltreffendheid en verval in dienslewering.

Related Articles

Back to top button