Letters

Brief: ‘Bal aan die rol’ laat hom wonder

Sanral wil opkomende swart sakelui betrek om vir die kontrakte te tender — maar onder sekere voorwaardes en vereistes.

Stieler van Eeden, Bela-Bela, skryf:

Ek lees in die voorbladartikel in Die Pos van Vrydag 21 Oktober oor tenders van R200 miljoen wat blykbaar aan plaaslike kontrakteurs uitgereik gaan word vir verskeie projekte as deel van die groot Sanral-projek.

Sanral wil opkomende swart sakelui betrek om vir die kontrakte te tender — maar onder sekere voorwaardes en vereistes.

Daar word in die berig gemeld dat daar opleiding aan die sakelui verskaf sal word ten einde wettig te kan tender.

Die rede hiervoor, word aangevoer, is dat Sanral reeds uit ondervinding en ervaring kennis dra dat verskeie konstruksiemaatskappye aan wie tenders toegeken was, nie hul kontakte korrek, na behore en volgens vereiste standaarde kon voltooi nie weens ’n gebrek aan kennis.

Nou wonder ek …

As R200 miljoen se kontrakte aangebied word aan “crash course kontrakteurs”, wat sal die eindresultate en oorbesteding aan die einde van die projekte wees?

Neem in ag die ervare konsultante wat ingehuur sal moet word en waarvoor seker ook in die tenders voorsiening gemaak sal moet word.

As oud-resiesfietsryer weet ek hoe dit voel om op ’n teerpad te ry wat voel soos ’n ongeskraapte sinkplaatgrondpad. Ek verwys na die gedeelte van die pad wat ’n paar jaar gelede opgegradeer is tussen Bela-Bela en die ATKV Klein-Kariba-vakansieoord. Die rit is erg genoeg in my motor.

Sterkte aan Riaan Oerlemans, projekbestuurder.

Related Articles

Back to top button