Letters

Brief: Dit raak te gevaarlik om jong skoolleerders te laat voetslaan

Het ons as ouers só laks geword in ons kinders se opvoeding dat ons niks omgee oor hul veiligheid nie?

Denise Edwards, Bela-Bela, skryf:

Daar was die laaste paar dae gereelde plasings op WhatsApp-groepe oor skoolleerders wat onverantwoordelik bestuur met hul motors en motorfietse.

Een skrywer het die opmerking gemaak dat hulle gestraf moet word en eerder moet stap. Hulle word nie meer padveiligheid geleer nie.

Dis deesdae net so groot risiko om kinders te laat stap.

Ry ’n bietjie om die hoërskool as die skool uitkom.

Daar is nie plek in die straat om te ry nie, want die kinders stap die straat vol. Dit verstom my dat daar nie daagliks kinders raakgery word nie.

Smiddae sit ek by die laerskool en wag vir kinders wat ek vervoer. Dis verstommend om selfs daar te sien hoe die kinders net eenvoudig oor die straat hardloop.

Vroeër jare het elke skool by elke uitgang padpatrollie-prefekte gehad wat die kinders gehelp het om veilig die paaie te kruis. Wat het daarvan geword?

Het ons as ouers só laks geword in ons kinders se opvoeding dat ons niks omgee oor hul veiligheid nie? Of het dit ook nou die skool se verantwoordelikheid geword om ons kinders van padveiligheid te leer?

Related Articles

Back to top button