Letters

Brief: Die hart van enige sakeonderneming

Meneer of mevrou, onthou dit is jou werknemers wat sorg dat jy daardie duur huis of motor kan bekostig.

Denise Edwards, Bela-Bela, skryf:

Ek het vroeër vanjaar besluit om vir myself te begin werk.

Hoekom? In die 31 jaar sedert ek die arbeidsmark betree het, het ek nog net vir twee werkgewers gewerk wat nie emosionele afpersing gebruik het om hul personeellede te behou nie.

Werkgewers gebruik die feit dat mense afhanklik is van hul werk om vir hul gesinne te sorg, as “verskoning” in hulle sleg te behandel en in die meeste gevalle, selfs minder as die minimumloon te betaal.

Meneer of mevrou, onthou dit is jou werknemers wat sorg dat jy daardie duur huis of motor kan bekostig. Dikwels eet jy elke dag ’n feesmaal terwyl jou werknemers tevrede moet wees met die minimum, want die loon wat jy betaal, betaal skaars hul huishuur.

’n Bekende persoonlikheid het eenkeer gesê: Kyk na jou werknemers en hulle sal na jou kyk. ’n Groter waarheid het niemand nog gesê nie.

My inkomste wat ek tans verdien is min of meer gelykstaande aan wat my laaste salaris was en steeds is daar mense wat beweer dat ek probeer ryk word uit my onderneming. Hoekom gun mense mekaar nie ’n plekkie in die son nie?

Mense beweer hulle is Christene, maar ’n mens sien dit nie in hul daaglikse lewenswandel nie. As enkelouer van ’n 11-jarige dogter met spesiale behoeftes is al wat ek wil doen om vir haar ’n goeie skoolopvoeding te gee sodat sy eendag selfstandig vir haarself kan sorg wanneer ek die dag nie meer daar is nie.

Uit ervaring weet ek ook dat daar werkgewers is wat geen empatie het met mense wat met gestremdes leef en uitdagings in die werksomgewing beleef nie.

Dit dra by tot ’n hoë werkloosheidsyfer. Die meeste van hierdie mense probeer dan eerder ’n inkomste verdien deur goedjies wat hulle self maak of bak. My hart breek elke keer wanneer ek sien of hoor hoe die “snobs” van die wêreld hierdie mense behandel.

Daarom vra ek met trane in my oë: Of jy nou ’n werkgewer is of nie — gun jou medemens ’n plekkie in die son.

Related Articles

Back to top button