Letters

Brief: Heffing van elektriese tariewe in Bela-Bela ’n katastrofe

Dieselfde uitbuiting geld ook vir aftree-oorde wat verkeerdelik op die industriële tarief aangeslaan word.

Johan Mills, DA-raadslid, Bela-Bela, skryf:

Die gemeenskap kla al jare lank oor die koste van elektrisiteit, water en eiendomsbelastings in Bela-Bela.

Ons sien ook dat ons nywerhede, en daarmee saam goed betalende werksgeleenthede, een na die ander ons dorp verlaat.

Die praktiese gevolg hiervan is dat ongeveer 79% van die bevolking van ons distrik as armlastig geklassifiseer word in die Ruimtelike Ontwikkelingsplan (Spatial Development Framework) vir Bela-Bela. Overgeset synde beteken dit dat 21% van ons mense die dorp finansieel dra. Hierbenewens is ons werkloosheidsyfer reeds ruim oor die amptelike 34,6% as gevolg van mense wat moed verloor het en nie eers meer probeer werk soek nie.

Die DA het verlede maand ’n mosie by die raad ingedien oor die industriële skaal waarop die elektriese rekeninge vir Renaissance en Tuintuiste 1 en 2 gehef word. Konserwatief geraam beteken dit dat die munisipaliteit elke maand ongeveer R10 000 ekstra uit elk van die twee Tuintuistes met 84 huise verhaal, en ongeveer ’n derde meer uit Renaissance wat meer huise het. Ons vertrou dat die saak by die volgende raadsvergadering hanteer sal word.

Om te verstaan hoe dit werk moet ’n mens weet hoe Eskom se tariewe werk. Kortliks, die Eskom-tariewe vir nywerhede het ’n lae vlak vir tien maande van die jaar in tye van lae verbruik en ’n piektarief vir die twee wintermaande. Binne hierdie tariewe is daar ook daaglikse piektye en tye van laer verbruik ingebou wat deur kundige nywerhede gebruik word om hulle bedryfskostes so ekonomies moontlik te bestuur. So kos dit prakties byvoorbeeld dubbel soveel aan elektrisiteit om ’n ton graan in Bela-Bela te maal as wat dit in Hammanskraal sou kos.

Bela-Bela gee egter geeneen van die voordele aan sy verbruikers deur nie en hef alle industriële rekenings op die maksimum piektarief plus ongeveer 11% as winsmarge. Vir die tien maande waarin Eskom se laagste tarief geld belaai die munisipaliteit sy industriële verbruikers met ongeveer 30% op die prys waarteen hy krag van Eskom aankoop. Dieselfde uitbuiting geld dus ook vir die aftree-oorde wat verkeerdelik op die industriële tarief aangeslaan word.

Ondersteun ons asseblief deur die volgende raadsvergadering by te woon. Alleen deur ’n aktiewe burgerlike gemeenskap kan ons ons dorp se toekoms verseker.

Related Articles

Back to top button