Letters

Brief: Jaag die dwelmhandelaars weg uit ons dorp, vra inwoner

Ons soek hulle nie naby ons kinders, skole of naby ons inwoners nie. En hulle moet die boodskap baie hard en duidelik kry.

Ouer van tienerkinders, Bela-Bela, skryf:

Dit is met skok dat ek verlede week verneem het van die groot “dwelmfabriek” wat hier reg onder ons neuse in Robertsonweg bedryf is.

Om te dink: Nie net ’n paar daggaplantjies nie — ’n hele fabriek met ’n lyn van vervaardiging en potte vol harde dwelms wat in die tuin onder die grond versteek is. En dit skaars een blok van ons mooi laerskool af!

Ek verneem van iemand wat binne-in die perseel was die binnekant van die heining was toegeplak met onder meer advertensieborde van bekende sakeondernemings in die dorp.

Ek het die afgelope week doelbewus ’n paar keer by dié huis verbygery. Ek kan nie glo dat ek — wat gereeld daarlangs ry — nooit snuf in die neus gekry het oor wat hier aan die gang is nie. Die plek lyk uiters verdag — nou dat ’n mens weet waarvoor om te kyk.

Ouers van tienerkinders in Bela-Bela behoort op te ruk na hierdie huis, na die hof, na die owerhede en na die media om daarop aan te dring dat die vuilgoed wat hier aan die werk was, nooit weer hulle voete in ons dorp sit nie. Ons soek hulle nie naby ons kinders, skole of naby ons inwoners nie. En hulle moet die boodskap baie hard en duidelik kry.

Die sakelui wie se kennisgewingsborde so gruwelik misbruik is, behoort ook woedend te wees en die eienaar van die huis behoort hom of haar te skaam oor wat in hul eiendom aangevang is.

Ouers van tienerkinders is siek en sat vir grootmense wat kinders se lewens met dwelms opfoeter. Ons jeug kry swaar. Ons mense is werkloos en hier kom buitelanders en maak só?

Die reg moet sy loop neem, maar ek sal beslis nie keer as die booswigte wat agter hierdie dwelmnes sit, genadeloos behandel word nie.

Ek hoop Die Pos vertel ons alles wat hier gebeur het, want ek het nêrens in ander media hiervan gelees nie. Miskien is ’n ‘dwelmfabriek’ wat in die Suid-Afrikaanse platteland deur buitelanders bedryf word, nie nuus nie …

Related Articles

Back to top button