Letters

Brief: Verloren het ’n lang geskiedenis

Dit is soos om jou buurman se lande te gaan oes.

Johan Mills, DA-raadslid, Bela-Bela, skryf:

Ek verwys na die berig in Die Pos van Vrydag 19 Augustus: “Aikona, sê Modimolle”.

Ten beste skets die berig die helfte van die prentjie van wat die Demokratiese Alliansie (DA) in die raadsvergadering van Bela-Bela ter tafel gelê het.

Daar is verskeie ontwikkelings waar die administrasie van Bela-Bela al jare nalaat om eiendomsbelasting te vorder. Dit geld nie net vir Verloren nie, maar ook vir Hideaway en ander residensiële ontwikkelings — waarvan sommiges op die koop toe nie eens wettig is nie.

Die geraamde verlies aan inkomste kan tot soveel as R3 miljoen per jaar beloop — wat onder meer beteken dat ons wat betaal aan van die hoogste eiendomsbelastings in die land onderwerp word om die boeke te laat klop. Die DA glo dat die situasie nie langer geduld mag word nie.

Sedert die ontstaan van Verloren val die helfte in die Bela-Bela-munisipale gebied en -landdrosdistrik. Daar is geen wetlike of enige ander grond wat Modimolle magtig om belasting te vorder in die buurdorp se jurisdiksie nie. Dit is soos om jou buurman se lande te gaan oes.

Waar die eiendomme op Verloren nie op Modimolle se waardasierol is nie, word eiendomsbelastings op fiktiewe waardes gehef. Laas wat ek gesien het is erwe en huise teen waardes van R78 000 en huise R780 000 respektiewelik aangeslaan.

Hierdie duimsuigwaardes het geen verband met die werklike markwaardes van die eiendomme nie.

Eiendomsbelasting moet volgens wet op markwaardes gegrond wees. Waar erwe in Verloren tans teen R450 000 bemark word en huise teen etlike miljoene bemark en verkoop word (en inderdaad so op Bela-Bela se waardasierol gewaardeer is), is die eienaars aan die Bela-Bela kant van Verloren se grens se brood inderdaad aan albei kante gebotter.

Terloops, teen huidige waardasies is Bela-Bela se verlies aan inkomste ongeveer R1,68 miljoen per jaar.

Om nou, ná bykans 14 jaar, die regstelling te wil doen omdat dit rugbaar geword het dat die DA in Bela-Bela hiervan werk wil maak en voor te gee dat die aanpassing van die grens ’n uitgemaakte saak is, gaan ’n bietjie te ver. Daar is nog ’n hele appèlproses wat deurloop moet word, want die aanpas van sulke grense is nie eenvoudig nie.

Die DA in Bela-Bela sal beslis alle moontlike druk uitoefen dat die agterstallige belastings en die huidige belastings wat tans verskuldig is, korrek op ons rekening tot voordeel van ons gemeenskap gevorder word — albei met behulp van die ouditeur-generaal (OG).

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button