Letters

Brief: Wetgewing gedoem tot mislukking

Daar is uitgewys dat die toepassing van die wet plaasvind teen die agtergrond van die algehele wetteloosheid en verval in munisipale dienslewering.

Michal Groenewald, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -lid van parlement en hoofwoordvoerder: Samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), skryf:

Hoewel die VF Plus die bekragtiging van die nuwe wetsontwerp op plaaslike regering oor munisipale stelsels in die parlement gesteun het, het die party daarop gewys dat hierdie wet nutteloos sal wees sonder die politieke wil om dit omvattend toe te pas.

Die wet het ten doel om professionaliteit in munisipaliteite te versterk deur onder meer maatreëls in te stel om politieke aanstellings van amptenare in munisipaliteite te voorkom.

Die VF Plus het uitgewys dat die toepassing van die wet plaasvind teen die agtergrond van die algehele wetteloosheid en verval in munisipale dienslewering in die meeste ANC-beheerde munisipaliteite landwyd.

Hierdie stand van sake word bevestig deur opeenvolgende jaarlikse verslae van die ouditeur-generaal (OG).

Tog is daar oor jare byna geen stappe geneem om enigiemand verantwoordbaar te hou of om die toenemende korrupsie en wanbestuur te bekamp nie.

Daar is ook talle gevalle waar eerbare professionele munisipale amptenare geviktimiseer is weens hul weiering om uitvoering te gee aan die onwettige agendas van ANC-politieke hoofde in munisipaliteite.

Hierdie wettelose omgewing in ANC-munisipaliteite het ook tot gevolg dat munisipaliteite dit deesdae byna onmoontlik vind om bekwame professionele amptenare aan te stel weens die vrees dat dit hul professionele status en loopbane skade sal aandoen.

Dit is ’n skande dat wetgewing ingestel moet word om professionaliteit, werksetiek en eerbare dienslewering aan gemeenskappe te verseker.

Die ANC pluk nou die wrang vrugte van sy rasgegronde beleid van kaderontplooiing wat direk tot die inploffing van munisipale dienslewering gelei het. Die jarelange misleiding van kiesers en die ooglopende plundering van hierdie kiesers se belastinggeld begin die ANC nou inhaal.

Die VF Plus sal aanhou stry om munisipale dienslewering te verbeter en korrupsie, kaderontplooiing en die rasgedrewe ANC-aanstellingsbeleid te beveg.
Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.

Related Articles

Back to top button