Letters

Brief: Boere gestraf terwyl onsinnige regulasies siekte versprei

Dit is onaanvaarbaar dat beesboere heeltemal lamgelê word terwyl ander dié sogenaamde rituele doeleindes wyd kan misbruik om hul bedrywighede voort te sit.

Tammy Breedt, Vryheidsfront Plus (VF Plus) -LP en hoofwoordvoerder: Landbou, skryf:

Die tweede groot uitbreking van bek-en-klouseer binne vier maande wys dat die regering geen werklike erns het om die siekte te bekamp nie en die verspreiding daarvan selfs met onsinnige regulasies aanhelp.

Die verbod van drie weke op die vervoer van beeste wat Thoko Didiza, minister van landbou, verlede week deur ’n mediaverklaring aangekondig het, sal nie net ernstige gevolge vir boere inhou nie, maar ’n negatiewe impak op verbruikers en die rooivleisbedryf hê.

Teen hierdie agtergrond is dit verstommend dat die minister wel toestemming gee dat vee vir “rituele doeleindes” vervoer mag word.

Dit is onaanvaarbaar dat beesboere heeltemal lamgelê word terwyl ander dié sogenaamde rituele doeleindes wyd kan misbruik om hul bedrywighede voort te sit.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, erken in ’n oorsigverslag wat uitgereik is, dat die onwettige vervoer van diere een van die hoofoorsake van die verspreiding van bek- en-klouseer is.

Tog word geen spesiale voorstel gemaak om dit aan bande te lê nie buiten deur te sê dat die “industrie” die polisie “aktief” help teen oortreders.

Die VF Plus het reeds vroeër vanjaar gewaarsku dat misdaad en die veiligheidsnet wat veronderstel is om die verdere uitbreking van bek-en-klouseer te voorkom, klaarblyklik vol gate is.

Met die vorige uitbraak in Mei het China ’n onmiddellike verbod geplaas op die invoer van gesplete hoefdiere en hul produkte soos wol vanuit Suid-Afrika.

Die voortdurende voorkoms van die siekte raak die groter Suid-Afrikaanse ekonomie direk wat steeds probeer om die gevolge van die Covid-19-regulasies af te skud.

Streng beheermaatreëls is ná die wye uitbreking van 2019 in plek gestel en geld is bewillig vir veilige sones om toe te sien dat besmetting nie versprei nie.

Dit is duidelik dat die uitvoering hiervan veel te wense oorlaat.

Suid-Afrika het in 2019 reeds sy internasionale status by die Wêreldorganisasie vir dieregesondheid verloor wat ’n swaar slag vir landbou en die veebedryf in besonder was.

Die VF Plus sal opnuut in gesprek tree met die nasionale departement van landbou om wetstoepassing te laat opskerp en toe te sien dat uitvoering gegee word aan bio-sekuri-
teitsmaatreëls wat eerder die bedryf sal help as straf soos met hierdie verbod.

Related Articles

Back to top button