Letters

Brief: Vrouedag eerder ’n roudag vir vroue in Suid-Afrika

Vroue moet hande vat en saamwerk aan ’n omgewing waar hulle vry en veilig is.

Erika Botha-Rossouw, Vryheidsfront Plus (VF Plus), voorsitter van vrouekomitee, skryf:

Suid-Afrikaners vier vanjaar die 28ste nasionale Vrouedag en die VF Plus wil op hierdie spesiale dag opnuut hulde bring aan die vroue en moeders van die land.

Dit is hulle wat, soos die standbeeld van die Vrouemonument in Bloemfontein, vorentoe kyk na die koms van ’n nuwe dag.

Die Vrouemonument het ’n simbool geword van die stil, innerlike krag van vroue met ’n standvastige toekomsvisie en ’n onwrikbare geloof in die toekoms.

Dit wys die vrou as steunpilaar wat bereid was om kaalvoet oor die Drakensberg te stap soekend na ’n beter toekoms wanneer andere se hoop en krag min raak. Hulle is volwaardige toekomsbouers van die land.

Tog word vroue se fundamentele regte en vryhede toenemend weggekalf en bedreig deur geslagsgeweld wat buite beheer toeneem.

Die ANC-regering uiter elke jaar lippetaal met mooi beloftes hieroor wat helaas geen betekenis meer inhou nie.

Verkragting, moord, gesinsgeweld en mensehandel neem by die dag toe in ’n samelewing met verbrokkelende norme en waardes.

Suid-Afrika het ’n land geword waar selfs die minister van polisie ’n vrou gelukkig ag wanneer sy net een keer verkrag word.

Die land het dringend ’n nasionale beleid vir geslagsgeweld en geslagsgelykheid nodig wat waarlik uitgevoer word.

Dan eers sal pres. Cyril Ramaphosa en sy regering se voortdurende beloftes oor die uitroei van geslagsgeweld ernstig opgeneem word.

Anders as vir die ANC-regering, is elke verkragting van ’n vrou vir die VF Plus een te veel.

Optrede soos met die polisielede wat nie as getuies by die moordverhoor van Meghan Cremer by die hooggeregshof in Kaapstad opgedaag het nie, is tekenend van die gebrek aan erns wat met ondersoeke gepaard gaan.

Ná 28 jaar van ANC-bewind faal die regstelsel slagoffers al hoe meer. Die geval van Jaco Swart wat sy vrou brutaal aangerand en slegs ’n tikkie oor die vingers gekry het met ’n R20 000 boete en ’n opgeskorte vonnis van vyf jaar, is welbekend.

Vroue moet hande vat en saamwerk aan ’n omgewing waar hulle vry en veilig is.

Die VF Plus moedige vroue aan om mishandeling aan te meld en by vroue-organisasies aan te sluit vir ondersteuning om uit gewelddadige verhoudings te ontsnap.

Tot daar ’n regering kom wat waarlik die vroue van die land koester en beskerm, sal hulle self moet opstaan en die siklus van geweld breek.

Related Articles

Back to top button