Letters

Brief: Paraatheid raak toenemend belangrik vir veiligheid

Hierdie voorval dien opnuut as bewys dat paraatheid en betrokkenheid by veiligheidsstrukture veral in landelike gebiede van kardinale belang is vir beskerming en beveiliging. 

Marcelle Maritz, Vryheidsfront Plus (VF Plus), lid van provinsiale wetgewer en provinsiale leier: Limpopo, skryf:

Die onlangse voorval op Cyferfontein buite Modimolle is die laaste van talle aanvalle die afgelope jare in dié gebied.

Dit dui opnuut op die noodsaaklikheid van landelike gemeenskappe om te alle tye paraat te wees en by plaaslike veiligheidsstrukture in te skakel.

Die slagoffer, ’n vrou van 25, het gevra dat haar naam en adres vir haar eie veiligheid weerhou word.

Volgens die vrou het vyf mans op Donderdag 11 Augustus die heining na die huis geknip, die honde op die werf vergiftig en met ’n leer tot op die balkon geklim.
’n Skuifdeur is daarna oopgedwing om toegang tot die woning te verkry.

Volgens die vrou het sy wakker geword en kon betyds daarin slaag om ’n alarm te aktiveer voordat sy in ’n hangkas weggekruip het.

Die aanvallers het haar egter gevind en haar gedwing om die kluis oop te sluit. In die proses is skote langs haar afgevuur waar sy op die grond gelê het.

Voertuigligte van lede van die plaaslike veiligheidsstruktuur het die aanvallers afgeskrik en hulle het op die vlug geslaan.

Hierdie voorval dien opnuut as bewys dat paraatheid en betrokkenheid by veiligheidsstrukture veral in landelike gebiede van kardinale belang is vir beskerming en beveiliging.

Die polisie in Modimolle het aan die VF Plus gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie. Daar is moontlik wel vingerafdrukke op die toneel gevind.

Die VF Plus het met die slagoffer geskakel en hulp aangebied aangaande traumaberading en ondersteuning.

Die party doen ’n beroep op die polisie om alles moontlik te doen om die skuldiges aan te keer voordat hulle nog ’n aanval uitvoer.

Related Articles

Back to top button