LettersOpinion

Brief: Vullisterreine ’n groot bekommernis

Die meeste vullisterreine in Limpopo is in ’n haglike toestand.

Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum-distrikskoördineerder, Limpopo, skryf:

AfriForum het vanjaar 162 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.
Slegs een uit 15 vullisterreine wat in Limpopo geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die wet op Nasionale Omgewingsbestuur, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Die meeste vullisterreine in hierdie provinsie is in ’n haglike toestand. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan mense wat onwettig op die vullisterreine woon, vuurmaak en slaap. Daar word gereeld diere-afval op van die terreine gestort en daar is geen sorteringsnetwerke nie.

Die mees algemene probleme wat AfriForum tydens die oudit opgemerk het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine. Die fokus sal daarop wees om, in samewerking met die munisipaliteite, aandag aan die vullisterreine in die provinsie te gee en druk toe te pas om die terreine weer reg te ruk. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskeepse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, en haar span vergader. Uit die vergaderings was dit duidelik dat daar onvoldoende kommunikasie bestaan tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede. Dit is duidelik dat samewerkende regering en tradisionele sake (CoGTA) en die departement van bosbou, visserye en omgewingsake nie met mekaar kommunikeer nie.

Related Articles

Back to top button