LettersOpinion

Brief: Verslag bevestig suksesse vir Afrikaans

Die DA hard werk om die belange van die Afrikaanssprekende gemeenskap te beskerm en bevorder.

Dr. Leon Schreiber, Lid van die Parlement, skryf:

AfriForum het verlede week die nuutste uitgawe van hul “Die wêreld moet weet”-verslag bekendgestel.

Die verslag is daarop gemik om die internasionale gemeenskap bewus te maak van die druk waaronder die Afrikaanse gemeenskap verkeer. Een ding wat ’n mens dadelik opval van hierdie goednagevorste verslag, is dat dit dosyne verskillende verwysings bevat na gevalle waar die DA hard werk om die belange van die Afrikaanssprekende gemeenskap te beskerm en bevorder.

Ook opvallend is dat die verslag nie eens een enkele keer verwys na enige ander politieke party wat iets doen om die belange van Afrikaanse Suid-Afrikaners te bevorder nie.

Indien Afriforum se navorsing ’n akkurate weerspieëling van die feite is, kan ’n mens met gemak sê dat die DA die doeltreffendste politieke kampvegter vir Afrikaans in die parlement is.

Die verslag verwys byvoorbeeld na die sukses wat die DA behaal het deur minister Blade Nzimande te dwing om te erken dat Afrikaans ’n inheemse taal is deur onder meer ’n klag by Unesco aanhangig te maak. Die Afriforum-verslag verwys verder na die DA se leidende rol in die veldtog om Afrikaans te behou in die naam van die Afrikaanse Taalmonument waar ’n historiese DA proteskonsert saam met wêreldklas Afrikaanse kunstenaars vir minister Nathi Mthethwa gedwing het om van sy waansinnige plan af te sien.

In ’n afdeling oor die steeds groeiende druk op Afrikaanse moedertaalonderrig, staan die DA ook uit in die verslag as die enigste politieke party wat prakties opstaan teen die “aanhoudende aanvalle” op Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch.

Die verslag sit uiteen hoe die DA hande gevat het met Studenteplein, ’n studente-organisasie vir Afrikaanse studente, om die universiteit hof toe te sleep oor die wyse waarop hul die Covid 19-pandemie misbruik het om die Afrikaanse aanbod selfs verder af te skaal. Die verslag bevat ook verdere verwysings na die DA se weerstand teen die rassistiese en diskriminerende wyse waarop die regering finansiële hulp tydens die Covid-pandemie toegeken het.

Met ’n uiters belangrike tussenverkiesing om die draai in Modimolle, is oom Boy Louw se wyse advies nog steeds so relevant soos altyd: “Looks at the scoreboard.” Terwyl kleiner partye soms baie praat oor hul verbintenis tot die regte van Afrikaanssprekendes, maak AfriForum se nuutste verslag dit duidelik dat daar net een wenner op die telbord is wanneer dit kom by ’n party wat prakties dinge gedoen kry vir Afrikaans.

Related Articles

Back to top button