LettersOpinion

Brief: Duur storie om ’n vrygesel te wees

Ons almal smag na die perfekte lewensmaat en al wil ons dit nie openlik erken nie.

Hoopvol, Bela-Bela, skryf: 

Dit is maar deesdae moeilik om ’n vrygesel te wees.

Ons almal smag na die perfekte lewensmaat en al wil ons dit nie openlik erken nie, gaan loer baie van ons op die webbladsye wat hul toespits daarop om vir mense lewensmaats te kry.

Die dilemma begin wanneer jy die ander party beter wil leer ken. Die kanse is skraal dat hy of sy binne “trefafstand” van jou woon, dus moet jy die spreekwoordelike vryperd opsaal om te gaan kuier.

Dit is nie meer so maklik nie, want ’n rit stad toe maak ’n aansienlike duik op jou begroting. Net die brandstofkoste van ’n Waterberger met ’n ekonomiese voertuig is ongeveer R630. Voeg dan die R179 vir die tolhekke by.

Nou begin die afspraak werklik eers. Julle ontmoeting sal op ’n openbare plek soos ’n koffiewinkel of restaurant wees, wat jou (as jy my maar suinig te werk gaan) nog R600 uit die sak kan jaag.

Die snelweg is deesdae laataand só gevaarlik, dat ’n gastehuis in die stad jou voorland is. Nog ’n minimum van R900 is daarmee heen.

Dit is daarom nie vreemd dat hierdie koste (meer as R2 000 per besoek) mense ontmoedig om toe-oogafsprake te maak, of selfs die vaagweg bekende persoon op die internet, te ontmoet nie.

Al afslag wat jy kan kry is as jy en die metgesel dadelik aanklank by mekaar vind en die ritte stad toe gou minder word en dalk die gastehuis uitskakel.

O wee. Ons het dit moeilik.

Related Articles

Back to top button