LettersOpinion

Brief: Kommer oor pasiënte se behandeling in staatshospitale

Staatshospitale het sedert die vlak vyf-inperking bitter min operasies uitgevoer en dit het tot gevolg gehad dat ’n enorme agterstand ontstaan het.

Philip van Staden, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) -lid van parlement en hoofwoordvoerder: gesondheid, skryf:

Die VF-Plus gaan die menseregtekommissie (MRK) nader om ondersoek in te stel na die onmenslike wyse waarop pasiënte in staatshospitale behandel word.

Dit volg nadat die party die afgelope jare gereeld klagtes van die publiek ontvang het. ’n Voorbeeld is die onlangse voorval in die Vrystaat waar ’n pasiënt reeds sewe maande wag op ’n prosedure nadat die persoon in ’n ongeluk betrokke was.

Die VF-Plus se lid van parlementêre wetgewer (LPW) in die Vrystaat, Armand Cloete, het reeds skrywes hieroor aan die Vrystaatse lid van uitvoerende raad (LUR) vir gesondheid gestuur en die saak verder te ondersoek.

Staatshospitale het sedert die vlak vyf-inperking bitter min operasies uitgevoer en dit het tot gevolg gehad dat ’n enorme agterstand ontstaan het.

Die VF-Plus hanteer ook talle klagtes van pasiënte in Pretoria waarvan sommiges al twee jaar lank wag op heupvervangings by die Steve Biko-hospitaal. Pasiënte wat ondraaglike pyn het, word keer op keer huis toe gestuur sonder medikasie.

Benewens klagtes oor behandeling, moes die party die afgelope jare ook telkens ingryp in gevalle waar pasiënte nie kos of water kry nie of ure lank in gange of op vloere gelaat word en ure, selfs dae, by hospitale moet wag om opgeneem te word of om selfs net ondersoek te word.

Klagtes is ook al ontvang van kankerpasiënte wat by staatshospitale opdaag om chemo-behandeling te ontvang en nie gehelp kan word nie aangesien hospitale nie die nodige middels vir die behandeling het nie.

Die VF-Plus is tans besig met ’n ondersoek na ’n pasiënt wat glo by die Steve Biko-hospitaal in ’n tent dood is sonder behandeling. Die party het reeds die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, versoek om skriftelike antwoorde hieroor te verskaf.

Die VF-Plus het in 2019 op hoogste vlak gemaan dat daadwerklike ingryping moet plaasvind om die krisis wat in staatshospitale heers, reg te stel. Hierdie versoek het op dowe ore geval en die krisis word by die dag erger.

Die VF-Plus se standpunt dat Suid-Afrika se openbare hospitale ontaard het in slagpale en lykshuise, bly staan en die jongste voorvalle is ’n bewys dat die party in hierdie opsig nie verkeerd is nie.

Die dae van praat en waarsku is verby en daar sal nou daadwerklik teen die regering opgetree word om hom tot verantwoording te roep.

Related Articles

Back to top button