LettersOpinion

Brief: Boere is grootliks verantwoordelik vir hul eie veiligheid, maan TLU

Dit is tyd dat boere aanvaar hulle speel die vernaamste rol in hul en hul mense se veiligheid.

Henry Geldenhuys, TLU SA President, skryf:

Of dit nou reg of verkeerd is, maar boere in Suid-Afrika is grotendeels op hulself aangewese om hul veiligheid te verseker.

Dit is tyd dat boere aanvaar hulle speel die vernaamste rol in hul en hul mense se veiligheid.

TLU SA nooi Suid-Afrikaners om op Donderdag 16 en Vrydag 17 Junie virtueel saam te stap teen plaasaanvalle en -moorde.

Die plan is om binne 24 uur virtueel 6 065 km te stap. Elke kilometer verteenwoordig een van die plaasaanvalle wat sedert 1990 gesinne en werkers se lewens uitmekaar geruk het. Daar is sedert 1990 altesame 2 182 plaasmoorde aangemeld en meer as 6 000 plaasaanvalle. (TLU SA werk streng volgens saaknommers om statistieke te bepaal.)

TLU SA is bly om te sien dat ’n groot deel van die boeregemeenskap bykomende maatreëls in plek het om hul veiligheid te verseker. Behalwe vir plaaswagte is daar ook groter gebruik van tegnologie. Of dit nou reg of verkeerd is dat boere so op hulself aangewese is, dit is die realiteit waarin ons leef.

TLU SA gee sy lede toegang tot traumaberading en is ook daar om boere op ander maniere by te staan soos nodig.

Daar is ’n netwerk van opgeleide beraders waartoe TLU SA-lede toegang het. Dit is nie net afgewaterde berading nie; die mense weet wat hulle doen en is spesifiek gereed vir elke unieke situasie. Dit is ook  altyd bemoedigend as boere se medemens nader staan om te help waar hulle kan. Ons het al oor die jare meer as een maal geleer, boere se hand en hart is oop vir sy medemens.

As mense die staptog wil ondersteun en wys dat die veiligheid van boere vir hulle belangrik is, registreer en laat jou naam op die lys van ondersteuners verskyn. Mense wat meer betrokke wil wees en hul ondersteuning op ’n aktiewe manier wil wys, kan stap of hardloop — 6 km of 6 065 tree — neem foto’s en deel dit op Facebook of Instagram met die veldtog se hutsmerke: #plaaslewens #plaasstap #tlusa.

Die skakel om te registreer en deel van die staptog te wees is https://stapsaam.co.za en mense wat wil sien hoe die roete lyk kan gaan loer by https://stapsaam.co.za/stap-saam/(.)

Related Articles

Back to top button