LettersOpinion

Brief: Ons moed sak in ons skoene …

Dit is elke maand ’n grot stryd om geholpe te raak.

Denise Edwards, Bela-Bela, skryf:

Ek wil dankie sê aan die handjievol personeellede van die Bela-Bela-staatshospitaal wat uit hul pad gaan om pasiënte onder bitter moeilike omstandighede by te staan.

Julle is die lig in daardie donker tonnel wanneer ’n mens by die hospitaal instap.

Dit is egter ’n groot frustrasie om ons staatshospitaal te besoek. Ek is maandeliks verplig om my dogter se medikasie by die staatshospitaal te kry. Dit is elke maand ’n groter stryd om geholpe te raak.

Die pasiënte sit in rye buite in die koue en wag vir hul beurt. Sommige pasiënte is siek en het noodbehandeling nodig en ander kom vir ’n roetine-besoek soos om medisyne af te haal of om die tandarts of terapeute te sien. Moet daar nie onderskeid gemaak word sodat almal beter en flinker diens kan ervaar nie?

Lesers sal wonder hoekom maak ek nie so ’n voorstel aan die personeel nie? Daar is ’n houer aangebring waar besoekers voorstelle kan ingooi. Ek het gaan ondersoek instel en kan inwoners verseker dat daardie houer bitter lanklaas oopgemaak is.

Vra ’n mens wie in beheer is, is daar groot onsekerheid en word daar nooit direk geantwoord nie. Die gerug in die gange is dat die hospitaalbestuur ’n bietjie deurmekaar is. Dit is baie duidelik dat daar nie goeie bestuursbeginsels toegepas word nie — dit is redelik chaoties.

Terwyl ek een oggend in die ry gesit en wag het, het ek gehoor hoe mense — waaronder talle bejaardes — kla dat hulle die vorige dag meer as 12 ure in die ry gewag het om onverrigter sake huis toe te gaan en die volgende dag weer te probeer.

Baie mense is afhanklik van die regering se gesondheidsdienste. Wanneer ek uiteindelik die voorskrif by die apteker kry, word ek gereeld meegedeel:

“Jammer hierdie of daardie medikasie is nie beskikbaar nie.” Hoe nou? Pasiënte maak staat op dié medisyne, want om dit privaat te koop is nie binne almal se finansiële vermoë nie.

Ek herhaal: Dankie aan die enkeles wat omgee vir hul medemens. Hopelik leer jul kollegas werksetiek en meelewing by julle.

Related Articles

Back to top button