LettersOpinion

Brief: So herhaal die geskiedenis van min samewerking hom weer

Sover ek kan onthou was sy betrokkenheid van ’n kortstondige aard.

John Fourie, inwoner van Bela-Bela, skryf:

Die onlangse afsterwe van prof. Braam Viljoen het my gedagtes teruggevoer na sy besoeke aan die destydse Warmbad toe hier onderhandel moes word oor die opklaring van intense spanning en konflik.

Ek het op 1 Mei 1993 by die plaaslike munisipaliteit diens aanvaar en op 1 Junie 1993 het ’n maandlange verbruikersboikot die dorp getref.

’n Besonder gespanne atmosfeer het etlike maande lank in die gemeenskap geheers.

Die oorgangswet op plaaslike owerhede is aan die einde van 1993 aanvaar en daar is in 1994 met onderhandelinge vir ’n plaaslike ower-
heidsbedeling begin.

Die tydperk ná die verbruikersboikot en die onderhandelinge het onder besondere spanningsvolle omstandighede plaasgevind. Een van die persone wat as bemiddelaar aangewys is, het tydens een van die vergaderings sy frustrasie uitgespreek oor die wantroue tussen die onderskeie gemeenskappe wat volgens hom die ergste was wat hy tot op daardie stadium ervaar het.

Verskeie persone, waaronder Viljoen, was by die bemiddelingsprosesse betrokke. Sover ek kan onthou was sy betrokkenheid van ’n kortstondige aard. Wat wel ’n indruk op my gemaak het, was sy onbevooroordeelde opregtheid om kalmte te probeer bewerkstellig.

Daar was tydens die staking ’n hewige twisgesprek in my kantoor tussen ’n latere vooraanstaande ANC-politikus en ’n plaaslike sakepersoon. Daar is op daardie dag ooreengekom om die boikot te beëindig.

Onderhandelinge oor dié aangeleenthede is by verskeie geleenthede by van die oorde in die omgewing gehou. Die munisipale amptenare wat ondersteunende funksies ra-
kende die onderhandelinge moes verrig, moes bontspring om benewens normale daaglikse funksies, ook te help om die gladde verloop van die onderhandelinge te bewerkstellig.

Die uiteindelike instelling van die oorgangsraad en die daaropvolgende nuwe munisipale bedeling het nie noodwendig vir rustigheid gesorg nie. Politieke geskille op plaaslike vlak het kort-kort opgeduik.

Verskeie mense was by hierdie oorgangstydperk betrokke. Wyle Fanie Mostert was in daardie tyd ’n stadsraadslid. Hy het tydens elke vergadering in ’n swart hardebandboek aantekeninge gemaak. Dit sal baie interessant wees as daardie boek van hom nog iewers opgespoor kan word.

Die naamsverandering van Warmbad na Bela-Bela is ook ’n stukkie geskiedenis op sy eie. Met meer deelname uit die gemeenskap kon die proses dalk anders verloop het.

Related Articles

Back to top button