LettersOpinion

Brief: Nuwe wet kom neer op sabotasie

Die wet sal werkloosheid in Suid-Afrika nog verder laat toeneem en lei tot ’n verdere uitvloei van kundigheid en sakeondernemings uit die land.

Jaco Mulder, Vryheidsfront-Plus (VF Plus) -lid van parlement en hoofwoordvoerder: handel, nywerheid en mededinging, skryf:

Die wysigingswetsontwerp op diensbillikheid wat aan Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, uitgebreide magte gee om self te oordeel waar na sy mening rasgedrewe ekonomiese transformasie behoort plaas te vind, kom neer op industriële sabotasie.

Dit sal te midde van reeds bestaande druk op ekonomiese groei nog verdere verswarende bepalings aan veral groter ondernemings oplê.

Die VF-Plus doen ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa om nie die wetsontwerp te bekragtig nie omdat dit ’n negatiewe invloed op beleggingsvertroue en ekonomiese herstel sal hê wat onafwendbaar nie tot swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en transformasie sal lei nie.

Indien die president die wet bekragtig, sal dit ’n reusebedreiging vir die vryemarkstelsel en ’n markgerigte ekonomie inhou.

Die wet kan aan die minister ingevolge artikel 15(a) van die wetsontwerp algehele mag verleen oor wie in ’n maatskappy aangestel mag word.

Die wet sal werkloosheid in Suid-Afrika nog verder laat toeneem en lei tot ’n verdere uitvloei van kundigheid en sakeondernemings uit die land.

Die VF-Plus doen ’n beroep op die sakesektor om saam met die party en ander rolspelers druk op die president toe te pas om nie die wet te onderteken nie.

Related Articles

Back to top button