LettersOpinion

Brief: Belange mag nie geminag word nie

Die belang van die Poskantoor mag in die proses nie uit die oog verloor of geminag word.

Wouter Wessels, Vryheidsfront-Plus (VF Plus) -lid van parlement en hoofwoordvoerder: kommunikasie en digitale tegnologie, skryf:

Baie word gesê oor kommunikasie en die digitale tegnologie in Suid-Afrika, soos die stand van die nasionale uitsaaier en die gesloer met breë spektrumtegnologie.

Tog mag die belang van die Poskantoor in die proses nie uit die oog verloor of geminag word.

Die Poskantoor is ’n belangrike skakel in die land se ekonomiese ontwikkeling, veral wat die ontwikkeling van die kleinsake-industrie aanbetref.

Poskantore was sedert Maandag 31 Januarie meer as R304 miljoen agterstallig aan huurgeld van eiendomme.

Dit het gelei tot die sluiting van talle takke wat veral nadelig is vir behoeftige mense wat afhanklik is van toelaes en die diens wat die Poskantoor met die uitbetaling hiervan lewer.

In ’n klaarblyklike poging om uit die verknorsing te kom, begin die Poskantoor nou sy eiendom op die ope mark op veilings verkoop. Altesame 14 eiendomme is tans in die mark. Die inkomste hieruit is natuurlik nie naastenby genoeg om sy skuld te delg nie.

Wat opvallend is, is dat die reserweprys vir die eiendomme laer is as die huidige markprys. Die kwelvraag is waarom ’n onderneming wat in geldelike moeilikheid is, sy eiendom onder die markwaarde verkoop? Dit maak nie sin nie.

Die Poskantoor het teen die einde van die finansiële jaar in Maart 2020 ’n verlies van R1,8 miljard getoon. Sy huidige skuld beloop R1,5 miljard meer as sy bates. Net sy skuld aan Telkom beloop R269 miljoen.

Waarom het die Poskantoor dan so agteruit geboer? Dit is nie sy sake-model nie. Ook nie die skuld van die sektor waarin hy sake doen nie. Dit is bekend dat talle private poskantore en koerierdienste baie goed vaar veral vanweë die gaping wat ’n verswakkende Poskantoor gelaat het.

Talle planne word beraam soos ’n nuwe sakemodel, maar dit spreek nie die ware redes vir die vernietiging van dié onderneming aan nie.

Die ware redes is dié wat nou reeds so sinoniem met die ANC geraak het: korrupsie, ’n opgeblase werkerskorps, finansiële wanbestuur en onbevoegdheid. Pakkies raak weg en die diens is swak.

Net soos die SABC is die Poskantoor vernietig deur skurke en parasiete. Dit is die ware redes.

Dit gaan oor die algehele mislukking van die regering wat die Poskantoor soos al die ander staatsondernemings heeltemal ten gronde laat gaan het.
Suid-Afrika en sy mense verdien beter as die ANC.

Related Articles

Back to top button