LettersOpinion

Brief: Gemeenskappe moet hulself weerbaar maak teen plaasmoorde

Daar word ’n beroep op gemeenskappe gedoen om paraat en voorbereid te wees en om hulself binne die wet op elke wyse moontlik te beskerm.

Marcelle Maritz, Vryheidsfront-Plus (VF Plus) -LPW en provinsiale leier: Limpopo, skryf:

Die jongste plaasmoord op ’n egpaar in Limpopo se Vhembe-distrik, is opnuut ’n bewys daarvan dat landelike gemeenskappe betrokke moet raak by hul plaaslike veiligheidsgroepe om hulself te beveilig en weerbaar te maak teen aanvalle.

Louis (71) en sy vrou, Ina (65) Cloete, is op hul plaas buite Levubu oorval, beroof en hul plaashuis aan die brand gesteek.

Die brutaliteit waarmee plaasaanvalle en -moorde gepaard gaan, dui daarop dat blote roof nie die motief is nie en hierdie soort misdaad as prioriteitsmisdaad verklaar moet word.

Die oomblik wanneer die politieke wil ontstaan om landelike gebiede te beveilig en behoorlike strafmaatreëls in plek stel, sal daar ’n drastiese afname in plaasaanvalle en -moorde wees.

Daar word opnuut ’n beroep op gemeenskappe gedoen om paraat en voorbereid te wees en om hulself binne die wet op elke wyse moontlik te beskerm.

Die VF-Plus was reeds in gesprek met die plaaslike polisie en ander veiligheidsrolspelers en sal alle moontlike druk uitoefen om toe te sien dat die moordenaars spoedig in hegtenis geneem en vervolg word.

Die VF-Plus spreek sy innige simpatie uit teenoor die familie van die oorledenes.

Related Articles

Back to top button