LettersOpinion

Brief: Ramaphosa moet vir ons sê wat is teenkorrupsie-maatreëls

Die VF-Plus vra dat die president duidelik uitstippel wat die maatreëls is waarna hy verwys.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) -leier, skryf:

Pres. Cyril Ramaphosa het onderneem om streng op te tree en te sorg dat korrupsie, diefstal en bedrog nie sal plaasvind met die noodfondse van miljarde rande wat beskikbaar gestel sal word vir die ramptoestand in KwaZulu-Natal nie.

Hy het dit ook gesê met die Covid-19-rampfonds en tog was die omvang van die korrupsie baie groot.

Die VF-Plus vra daarom dat die president duidelik uitstippel wat die maatreëls is waarna hy verwys.

Hy sê die ouditeur-generaal en nasionale tesourie sal betrek word by die aanwending van die geld, maar dit is ook wat hy met die Covid-19-geld gesê het. Hierbenewens noem hy “ander rolspelers”, asook staatsdepartemente. Dit is juis die probleem.

Hy maak sodoende die deur wyd oop vir moontlike korrupsie. ’n Voorbeeld waar korrupsie kan plaasvind is die koepons wat beskikbaar gestel sal word vir mense om hul huise te herbou.

Daar is nie beswaar teen die beginsel nie, maar die vraag is hoe dit toegepas sal word.

Dit kan vergelyk word met die kospakkies van Covid-19. Amptenare het dit misbruik om hulself te verryk en van dié amptenare moes in sommige gevalle omgekoop word om kospakkies te kry.

Die vraag is daarom wie hierdie koepons sal beheer en beskikbaar stel?

Dierevoer wat tydens die nasionale droogteramptoestand, wat tot laat in 2020 aan boere in nood versprei moes word, is deur diensverskaffers en amptenare verkoop en dié wat dit moes ontvang, het dit nie gekry nie. Dié ramptoestand het geen werklike verligting gebring vir diegene wat skade gely het weens die ramp nie.

Regulasies wat ingevolge die ramptoestand uitgevaardig word, moet in lyn wees daarmee om die slagoffers van die ramp doeltreffend by te staan om verligting te bring.

Daar is verskeie ander maniere hoe die geld geplunder kan word en die VF-Plus sal daarom wil weet presies wat behels die maatreëls wat Ramaphosa gaan instel om dit te voorkom.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button