LettersOpinion

Brief: ‘Niks anders as verskuiwing van politieke mag’

Dit is onaanvaarbaar dat die regering op hierdie wyse aan sinnelose en beperkende regulasies vasklou wat die land soveel skade berokken het.

Philip van Staden, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) -lid van parlement en hoofwoordvoerder: Gesondheid, Limpopo, skryf:

Die vervanging van die ramptoestand met regulasies van die departement van gesondheid om Covid-19 of enige pandemie in die toekoms te bestuur, is net ’n verskuiwing van politieke mag.

Pres. Cyril Ramaphosa het op Maandag 4 April aangekondig dat die ramptoestand om middernag (4 April 2022) opgehef word.

Dit beteken bloot dat die regering die Covid-19-pandemie nie meer onder die minister van samewerkende regering en tradisionele sake sal reguleer nie, maar deur die minister van gesondheid onder die nasionale gesondheidswet.

Met die poging om die nasionale gesondheidswet se regulasies te wysig en om die nuwe regulasies te rig, beteken dit dat die regering sal voortgaan met striemende ekonomiese beperkings.

Dit is duidelik dat hierdie voorgestelde regulasies nie goed deurdink is nie en dat die regering geen les uit die beperkings ingevolge die ramptoestand geleer het nie.

Die minister van gesondheid kan kragtens die voorgestelde regulasies enige tyd sonder enige parlementêre oorsig verdere regulasies afkondig.

Die VF-Plus het reeds in Oktober 2020 in die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid hierteen gewaarsku.

Dit is onaanvaarbaar dat die regering op hierdie wyse aan sinnelose en beperkende regulasies vasklou wat die land soveel skade berokken het.

Die vlak-5-inperkings is aanvanklik ingestel om die land se openbare gesondheidstelsel gereed te kry vir die pandemie se gevolge, maar tot vandag toe is dit steeds nie gereed vir enige pandemie nie.

Die huidige vlaag van probleme wat die afgelope tyd by staatshospitale ontstaan het, is ’n duidelike bewys daarvan.

Die huidige lae besetting van hospitaalbeddens weens Covid-19-gevalle en die herstelkoers van 97% dui daarop dat enige verdere regulasies Suid-Afrika net skade gaan aandoen.

Die VF-Plus sal alles moontlik doen om enige verdere beperkende regulasies teen te staan.

Die party moedig die publiek, medici en wetenskaplikes aan om voor Vrydag 15 April 2022 hul besware oor die voorgestelde gesondheidsregulasies aan die departement van gesondheid te stuur per e-pos by: tsakani.furumele@health.gov.za(.)

Related Articles

Back to top button