LettersOpinion

Brief: Dankbaar vir gemeenskap se bystand ná ongeluk

Ons was binne minute omring van helpende hande.

Tania Lötter, oud-Warmbadder en deesdae Pretorianer, skryf:

Ons Lötter-gesin was 14 jaar lank deel van die Bela-Bela-gemeenskap voordat ons in 2019 na Pretoria verhuis het.

Ek en my ouers, Fransie en Ria Botha, asook my twee seuns, Leon en Tiaan, het op Vrydag 1 April uitgesien na ’n heerlike ontspanne naweek by Sondela-natuurreservaat.

My man, Stoffel, en ons dogter, Meleasje, sou later die middag by ons aansluit. Met die wete dat ons die sleutel vir die eenheid om 15:00 kon kry, het ons besluit om ’n draai deur die dorp te ry.

Ons wou met die terugkomslag by Toeka se Padstal stilhou. By die indraai na Toeka het ’n vragmotor in my pa se voertuig vasgery en die voertuig met ons almal binne-in het weens die impak omgeslaan.

Die Vader se hand was voorwaar oor ons, want net my ma is só erg beseer dat sy gehospitaliseer moes word. Ons was binne minute omring van helpende hande.

Ons is baie dank verskuldig aan die bestuur en werkers van Toeka. Hulle het koeldrank aangedra, getroos, gehelp om bagasie oor te laai en ons bemoedig.

Ons moet in besonder vir Dylan du Plessis bedank vir sy meelewing en hulp. Die ander gaste van Sondela wat dadelik stilgehou het om hulp aan te bied, ons het nie julle name nie, maar weet net ons is baie dankbaar vir julle hulp.

Die Netcare 24-ambulansdienste was binne minute op die toneel.

Dankie aan Madeleen, Robert en Tiro, wat so mooi na my ma omgesien het en verseker het dat sy veilig by Montana-hospitaal aangekom het.

Die SAPD-lede van Bela-Bela, julle vriendelikheid en omgee oor elkeen van ons se welstand, asook die professionele diens wat ons ontvang het, was van hoogstaande gehalte.

Brenda en Greg van Bosch, dankie dat julle nie eens twee keer daaroor gedink het om my, Leon en Tiaan terug te neem Pretoria toe nie. Julle is ware staatmakers en ’n aanwins vir jul gemeenskap.

L&N Auto se professionele bystand verdien ook vermelding. Hulle het binne minute vir die insleep van die voertuig gesorg.

BB Auto Body Rebuilds (Santie Boshoff) het verseker dat my ouers se persoonlike besittings eenkant gesit word. Julle hulp was van onskatbare waarde.

Dankie ook aan die jong paartjie wat die hele toneel gesien afspeel het en bereid was om na vore te kom as ooggetuies.

Dankbare woorde is eintlik maar min teenoor die opregte waardering wat ons het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button