LettersOpinion

Brief: Slegte paaie kniehalter boere

Grond- en teerpaaie het dringend aandag nodig, want weens die gebrek aan gereelde instandhouding is die toestand van die paaie nou só slegs dat dit oorgebou moet word. Dit is verby die stadium waar instandhouding nog ’n moontlike oplossing is.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder, TLU SA, skryf:

TLU SA is baie bekommerd oor die toestand van die land se paaie.

Dit sal net ’n groter impak op die ekonomie hê, en nog belangriker is dat dit nie meer aldag veilig op die paaie is nie.

Daar is verskeie faktore wat ’n rol speel en TLU SA besef swaar reën en die daarmee gepaardgaande vloede het paaie beskadig, maar die feit is dat heelwat paaie reeds vóór die swaar reën en vloede in ’n swak toestand was.

Grond- en teerpaaie het dringend aandag nodig, want weens die gebrek aan gereelde instandhouding is die toestand van die paaie nou só slegs dat dit oorgebou moet word. Dit is verby die stadium waar instandhouding nog ’n moontlike oplossing is.

Oral in Suid-Afrika hoor boere dieselfde storie: Daar is nie geld, mannekrag en masjinerie nie. Tog is daar in die brandstofprys — wat omtrent elke maand styg — ’n groot gedeelte vir die instandhouding van paaie. Wat word van dié geld?

TLU SA het besluit om oor te gaan tot aksie en met ’n veldtog te begin om te kyk wat gedoen kan word aan die huidige stand van paaie.

Om die erns van die saak aan te spreek en die dringendheid daarvan onder die regte mense se aandag te bring — en hulle onder genoegsame druk te plaas om veranderinge af te dwing — het TLU SA almal se hulp nodig.

Hierdie is ’n inisiatief van Suid-Afrikaanse landbouers in samewerking met TLU SA in belang van voedselsekerheid, menswaardigheid en die reg op lewe.

Boere ly grootskaalse skade aan hul voertuie en produkte wat by die markte moet uitkom om die volk te voed.

Die haglike toestand van paaie bring boere se vermoë om kos op die tafels te kry in gedrang.

Daar is selfs vervoerkontrakteurs wat weens die toestand van paaie weier om dié spesifieke paaie te gebruik terwyl ander kontrakteurs hul tariewe verhoog as hulle by boere — tot wie toegang net op die verwaarloosde paaie gekry kan word — aflewerings moet doen of kos markte toe moet vervoer.

Boerdery-insetkoste is reeds baie hoog — nog voordat die maandelikse brandstof-prysstyging in berekening gebring word. Boere en landbou kan eenvoudig nie nog ’n aanslag ( soos die nasionale padtoestande) bekostig nie.

Die regering moet nou op alle vlakke aandag gee aan die agteruitgang van ons paaie, want dit is reeds ’n krisis.

Om betrokke raak vra TLU SA dat Suid-Afrikaners die veldtogblad besoek https://tluveldtogte.co.za/paaie/ besoek en hul stem tot die koor van stemme voeg wat roep vir verandering en optrede van die regering af. 

Deur die vorm in te vul, sit lesers hul stem by ons versoek aan die Suid-Afrikaanse regering om voorsiening te maak vir ’n bykomende openbare belastingkortingvoordeel van 10% op alle inkomste- en korporatiewe belasting wat vir padinstandhouding gebruik word.

Suid-Afrikaners gebruik hul openbare belastingkortingvoordeel vir maatskaplike kwessies met groot doeltreffendheid. Op dieselfde manier kan ’n openbare belastingkortingvoordeel vir padinstandhouding instrumenteel tot padveiligheid wees.

Ons sal in die versoek ook aan Fikile Mbalula, minister van vervoer, beklemtoon dat die huidige stand van paaie nie net ’n gevaar vir mense nie, maar ook vir die volhoubaarheid van landbou en die Suid-Afrikaanse ekonomie in geheel, inhou.

Die petisie sal ook eis dat toegekende begrotings doeltreffend en binne die nodige tydperke aangewend word om Suid-Afrikaanse paaie daadwerklik te verbeter.

Related Articles

Back to top button