LettersOpinion

Brief: Covid 19-pandemie kan nie langer die skuld kry vir Limpopo se verval

Limpopo het lank voor die Covid-19-pandemie in chaos verval weens kaderontplooiing, wanbestuur en korrupsie.

Marcelle Maritz, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) provinsiale leier: Limpopo, skryf:

Die premier van Limpopo, Stan Mathabatha, het met sy onlangse provinsiale openingsrede die Covid-19-pandemie verkwalik vir die swak toestand waarin Limpopo verkeer.

Limpopo het lank voor die Covid-19-pandemie in chaos verval weens kaderontplooiing, wanbestuur en korrupsie.

Mooi beloftes en woorde sal Limpopo nie soos die spreekwoordelike feniks uit die as laat herrys nie.

Of die premier oor die nodige politieke wil beskik om ’n einde te bring aan kaderontplooiing en die plundering van belastingbetalersgeld in munisipaliteite, is te betwyfel met inagneming van die aantal munisipaliteite wat daarin kon slaag om ’n skoon ouditverslag van die ouditeur-generaal te kry.

Munisipaliteite se werksaamhede word lamgelê weens korrupsie, wanbestuur en onbevoegde amptenare wat dienslewering aan gemeenskappe ondergeskik stel aan hul eie belange.

Die VF-Plus sal graag wil sien hoe munisipale dienste in die sogenaamde slim stad, Nkuna Smart City, wat in die Capricorn-distriksmunisipaliteit ontwikkel gaan word, sal lyk as daar nie eens basiese dienste in munisipaliteite gelewer kan word nie.

Die jeug is die toekoms van Limpopo, maar die gehalte van onderwys is te swak om hulle ’n geleentheid te gee om hul potensiaal te ontwikkel.

Limpopo se matriekslaagsyfer vir 2021 van 66,7% was die swakste in die land.

Die premier spog oor ’n hele lys van padinfrastruktuurprojekte, maar kan gerus die volgende paaie wat ’n groot impak op toerisme, landbou en die ekonomiese vooruitgang van Limpopo het, by die lysie voeg: Marken-Baltimore-Maasstroom (R561), TomBurke-Swartwater-Alldays (R572), Northam-Koedoeskop (D1235), Marble Hall-Siyabuswa (R573) en Groblersdal-Stofberg (R33).

Die premier het gefokus op toekomstige landbouprojekte en dit is jammer hy het nie van die geleentheid gebruik gemaak om te sê wat hy gaan doen om ’n stabiele omgewing vir bestaande kommersiële landbouers in Limpopo te verseker nie.

Hierdie sektor dra reeds by tot volhoubare ekonomiese groei en die skep van werksgeleenthede.  

Ekonomiese ontwikkeling en groei sal nie realiseer solank infrastruktuur en basiese dienslewering in ’n toestand van verval is nie.

Hierby sal die afskaffing van die ANC se mislukte beleid van regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) die provinsie tot sy volle potensiaal laat ontwikkel.

Related Articles

Back to top button