LettersOpinion

Brief: Gesukkel met Staatskoerant-publisering skep probleme vir Suid-Afrikaners

Dit is vir TLU SA baie belangrik om deurentyd op hoogte te wees van sake wat ’n invloed op die landbouer sal hê sodat die inligting so gou en volledig moontlik aan lede deurgegee word.

Erika Helm, TLU SA-voorsitter: plaaslike regeringskomitee, skryf:

Hoewel dit nie nuus is wat aan die groot klok gehang word nie, verneem TLU SA met groot kommer dat die Staatskoerant-kanale tans nie na behore werk nie.

Dit is ’n aangeleentheid wat al geruime tyd ongesiens verbygaan, maar tog elke inwoner in die land raak.

Baie aangeleenthede wat ’n impak op ons daaglikse bedrywighede het, veral wat betref regulasies en wetgewing, word in die Staatskoerant bekend gemaak en gepromulgeer wat dit dan ’n wettige besluit maak.

Die Staatskoerante is beskikbaar deur die Staatsdrukkery (Government Printing Works) en daar is twee webtuistes wat die inligting gratis beskikbaar gestel het.

Die een webtuiste het reeds verlede jaar nie meer enige Staatskoerante vir die publiek gepubliseer nie en die ander drukkery het sedert Vrydag 28 Januarie geen toegang verleen nie. Dit is vir TLU SA baie belangrik om deurentyd op hoogte te wees van sake wat ’n invloed op die landbouer sal hê sodat die inligting so gou en volledig moontlik aan lede deurgegee word.

Die publikasie van grondeise moet beslis voorkeur geniet.

Promulgering van plaaslike regering se wettige besluite vorm ’n groot deel van hierdie inligting. Die TLU SA het die staatsdrukkery probeer skakel en daar is nie eens antwoord nie.

Een van ons amptenare in ’n ander kantoor het ook probeer, maar daar is net geen antwoord by die kantore nie.

In terme van die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 2000, is die wetgewing daarop gerig om ’n regverdige en billike administratiewe aksie daar te stel wat moontlik enige persoon se regte mag benadeel.

Daar behoort ’n geleentheid te wees vir mense wat deur sekere besluite geraak word, om daarop te reageer met administratiewe stappe. Indien die staatsdrukkery nie die Staatskoerante beskikbaar stel nie, word hierdie geleentheid van landsburgers ontneem.

Die wetgewing bepaal ook daar moet spesifieke stappe geneem word om die inligting beskikbaar te stel.

Dit is onbillik en onregverdig om gratis inligting wat ’n gebruiksreg daargestel het, nou teen koste af te dwing. Ons beskou hierdie as ’n baie belangrike aangeleentheid aangesien die regering hierdie geleentheid kan gebruik om wetswysigings deur te voer sonder dat ons die geleentheid gegun word om kennis daarvan te neem of daarop te reageer.

Mense besef nie hoe belangrik hierdie inligting is nie.

Die Grondwet bepaal duidelik in paragraaf 32 van die Handves van Regte dat elke persoon die reg het tot inligting wat deur die regering gehou word en enige inligting wat benodig word in die uitvoering of beskerming van enige regte.

Die regering moet verduidelik wat is die regstellende stappe wat geneem sal word en die tydperk wat dit sal neem.

Voorts moet die regering ook in kennis gestel word dat die inligting wat nie aan die publiek beskikbaar was nie, nie deel sal uitmaak van enige tydperk of geleentheid wat gegun moet word waarin mense hul regte kan uitoefen nie.

Related Articles

Back to top button