LettersOpinion

Brief: Die ‘oppe’ en ‘affe’ van die lewe

Kyk, een ding is seker, ’n ma van my ouderdom moet kophou met al die “oppe” en “affe” van die lewe. 

Mariette Nicholson, Modimolle, skryf: 

Kyk, een ding is seker, ’n ma van my ouderdom moet kophou met al die “oppe” en “affe” van die lewe.

“Mam, ek is gehok vir die naweek omdat ek Maandagoggend 5 minute laat was vir inspeksie by die koshuis. Net vyf minute! Dit was nie my eens my skuld nie — Nila se ma was laat en toe is ek ook laat,” sê my kind verontwaardig.

“Ek kry nie my hemp vir môre se atletiekbyeenkoms nie — ek dink Quan het dit verlede week geleen of die hemp is by die huis, of dalk weg. Ek weet nie. O ja, ek het goeie punte gekry vir Dinsdag se biologietoets.

Eintlik kan ek nie te lank praat nie, my data is so te sê klaar,” sê my wildekuiken-koshuiskind alles in een asem toe hy my gisteraand bel.

Bid asseblief saam — my ma is in die hospitaal en sy is baie siek, vra een van my hartsvriendinne.

Nog een laat weet ek moet ’n kersie aansteek en dankgebede opstuur — sy en haar man het ’n wonderlike romantiese naweek gehad nadat hulle deur ’n slegte tyd is. Dinge was nie lekker nie, maar sy voel nou weer opgewonde oor die toekoms.

Die bloedbank bel my en vra of ek asseblief weer drie lewens kan red deur aanstaande week te gaan bloed skenk.

Mamma is ’n lewensredder, sê Sussa en bedank my dat ek haar kon help met ’n paar rand so kwart-voor-maandeinde. Sy moes dringend voorgeskrewe boeke koop wat sy benodig vir verdere studies.

Nog ’n vriendin stuur opgewonde foto’s aan van haar mooiste eerste kleinseun.

Nog ’n vriendin vra dat ek asseblief ’n skoolmaat van haar seun in my gebede sal hou. Die arme kind het op 18-jarige ouderdom ’n beroerte gehad en dinge lyk nie goed nie.

Die “oppe” en “affe” van die lewe, dink ek by myself toe ek laataand twee kersies brand — een vir die “oppe” en een vir die “affe”.

Ons het darem nog mekáár, dink ek by myself en ons het Lig. Amen.

Related Articles

Back to top button