LettersOpinion

Brief: Staatsrede 2022: Die tyd vir optree het aangebreek

Daar moet praktiese optrede kom om ekonomiese groei te bewerkstellig, want dit is die kern van Suid-Afrika se talle probleme.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) -leier, skryf:

Met die probleme wat Suid-Afrika in die gesig staar, is die tyd vir praat verby en die tyd vir optree en doen het aangebreek.

Die VF-Plus sal daarom met die Staatsrede-2022 van pres. Cyril Ramaphosa wil hoor watter praktiese en volhoubare stappe hy gaan neem oor veral die werkloosheidskrisis in die land.

Niemand wil meer hoor van een of ander konferensie of gesprek om die probleem op te los nie. Daar moet praktiese optrede kom om ekonomiese groei te bewerkstellig, want dit is die kern van Suid-Afrika se talle probleme.

Toestande moet nou geskep word wat dit gunstig sal maak vir beleggers om hul geld na die land te bring.

Nóg ’n beraad of beloftes hieroor sal nie werk nie.

Die party wys jare al op die kern van die land se ekonomiese probleme, naamlik striemende arbeidswetgewing, swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie.

Hieraan moet verander word voordat daar enige sprake van groei en vooruitgang sal wees.

Verdere praktiese stappe waarvan die VF-Plus wil hoor, is oor misdaadbestryding. Ramaphosa moet verduidelik hoe hy verwag dat misdaad doeltreffend bestry kan word terwyl die polisie se begroting besnoei word.

Jare van leë beloftes het die land duur te staan gekom en die ANC toenemend van die publiek vervreem.

Die afgebrande parlementsgebou is simbolies van wat met Suid-Afrika onder ANC-leierskap gebeur het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button