LettersOpinion

Brief: Geluk met die A’s, B’s én die C’s

Sedert die matriekuitslae bekend gemaak is, spog elke mamma op Facebook. En dit is ook reg so!

Mariette Nicholson, Modimolle, skryf:

Ek lees die afgelope drie weke in die koerante van al die slim kinders in ons land.

Nege onderskeidings hier, 14 onderskeidings daar en so gaan die lysie aan.

Sedert die matriekuitslae bekend gemaak is, spog elke mamma op Facebook. En dit is ook reg so!

Natuurlik is dit elke ma se volste reg om te spog met haar matrikulant.

Ek het self ’n paar jaar gelede gespog oor Sussa se uitslae en vandag is sy ’n briljante hoërskoolonderwyser aan ’n vooraanstaande skool. Sy gee op haar beurt weer haar beste sodat haar matrikulante goeie uitslae sal behaal.

Ek salueer die toppresteerders. Baie geluk en welgedaan.

Ek wil egter baie geluk sê aan dié leerders wat hard gewerk het vir daardie B-simbool.

Aan dié leerders wat hulle alles gegee het (die meeste van die tyd sonder WiFi en by kerslig), om ’n plek te (probeer) verseker tot toelating vir die universiteitskursus waarvoor hulle aansoek gedoen het.

Aan dié leerders wat ’n C-simbool gekry het vir nagte se deurnagstudie en harde werk, ook ’n pluimpie en gelukwense. Ek weet dit was nie maklik nie.

Baie geluk aan elke leerder wat nie moed opgegee het nie.

Related Articles

Back to top button